Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jacob Zuma kan Ace se hofsaak bywoon

Oudpres. Jacob Zuma sal na verwagting Vrydag ook die hofverskyning van sy kameraad, Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, in die landdroshof in Bloemfontein bywoon.

Of Zuma se teenwoordigheid op Vrydag die 13de vir beskuldigde nr. 13 (Magashule) geluk of ongeluk sal bring, sal net die tyd leer.

Die verhoor van Magashule se medebeskuldigdes, wat op 65 aanklagte teregstaan, is vroeër die week tot Februarie aanstaande jaar uitgestel.

Na verneem word, het vier afgevaardigdes van Luthuli-huis, asook Ricardo Mettler, voormalige lyfwag van Magashule, Donderdag die bestuur van die landdroshof oor veiligheidsmaatreëls vir Vrydag se hofverrigtinge gaan spreek.

Ace Magashule

Magashule se hofverskyning hou verband met die asbesdak-oudit van miljoene rande van die Vrystaatse regering wat volgens die staat op “bedrieglike en korrupte wyse” tussen 2014 en 2016 gedoen is.

Magashule sal op verskeie aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery aangekla word.

Ná verneem word, het die afvaardiging van die ANC ook ’n versoek gerig dat vyf sitplekke bespreek word in die hofsaal waar Magashule na verwagting sal verskyn. Een daarvan is glo vir die oudpresident en ’n ander een vir ’n familielid van Magashule.

Intussen sal die strate om die hofgebou afgesper word en niemand sal naby die gebou toegelaat word voordat hulle nie ’n permit kan toon nie.

Amptenare in die gebou, asook die prokureurs moet ’n permit hê. Selfs studente van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie sal nie toegelaat word om sonder ’n permit verby die hofgebou te beweeg nie.

Daarmee saam sal verskeie polisielede op sekere punte naby die hofgebou staan met ’n lys name van verhoorafwagtendes in ander verhore, wat op borgtog of waarskuwing uitgelaat is. Hulle sal hul hofverrigtinge kan bywoon.

Ook die media wat verslag wil doen oor die hofverskyning, moet om ’n permit aansoek doen.

• Vir Magashule se vriend, oudpres. Zuma, was Vrydag die 13de in 2017 nie ’n goeie dag nie. Op dié dag het sy appèl in die appèlhof in Bloemfontein teen ’n bevinding van die hooggeregshof in Pretoria oor die spioenasiebande en of hy wel op talle aanklagte van beweerde korrupsie, bedrog, geldwassery en afpersing moet teregstaan, misluk. Die appèlhof het ook beslis dat hy en die nasionale vervolgingsgesag die regskoste moet betaal.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Jacob Zuma  |  Bloemfontein  |  Hofverskyning  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.