Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jacobs hoor weer: ‘Dis in polisie se beste belang’

“Jou verplasing is in die beste belang van dienslewering vir die polisie.”

Vir die tweede keer in minder as vyf jaar het dié woorde lt.genl. Peter Jacobs, misdaadintelligensiehoof, begroet in ’n brief waarin hy van sy onmiddellike verplasing ingelig is.

Jacobs is in Junie 2016  vir die eerste keer in ’n brief van Khomotso Phahlane, wat toe die waarnemende nasionale polisiehoof was, ingelig van die polisiebestuur se besluit.

Jacobs en genl.maj. Jeremy Vearey is daarna, op 13 Junie 2016, op ’n vergadering vir groeppolisiehoofde, afdelingshoofde en stasiebevelvoerders ingelig dat hulle verplaas word.

Jacobs was toe Wes-Kaapse hoof van misdaadintelligensie en Vearey waarnemende adjunk-provinsiale kommissaris belas met speurdienste. Jacobs is toe na die Wynberg-polisiegroepering verplaas en Vearey na die Kaapstad-groepering.

Hulle het hulle tot die arbeidshof gewend en in hofstukke aangevoer dat die polisie nagelaat het om hulle behoorlik kennis te gee. Hulle wou ook weet wat die doel van die verplasings is.

Hulle het verder aangevoer dat hulle nie ’n redelike geleentheid gegee is om vertoë te rig nie.

Luidens die hofstukke is Jacobs die geleentheid gegee om vertoë te rig, maar daar was geen terugvoering nadat hy dit gedoen het nie.

Vearey is glo glad nie die geleentheid gegun nie.

Hulle het aangevoer dat Phahlane die kollektiewe bedingingsooreenkoms tussen die polisie en die polisievakbond Popcru verbreek het.

Vearey en Jacobs is albei lid van Popcru.

Phahlane het derhalwe ook hul dienskontrakte verbreek.

Lt.genl. Peter Jacobs (links) en genl.maj. Jeremy Vearey in 2017 tydens hul hofsaak teen die polisie in die arbeidshof in Kaapstad. Foto: Melinda Stuurman/Die Son

Regter Hilary Rabkin-Naicker het in Augustus 2017 beslis dat Jacobs en Vearey moet terugkeer na hul ou poste – dié van Wes-Kaapse speurhoof en Wes-Kaapse misdaadintelligensiehoof. Die polisie het nooit aan die uitspraak gehoor gegee nie.

Sy het destyds in haar uitspraak gesê die verplasings is ondeurdag, ongeldig en onwettig.

Soos toe berig is, sou die polisiebestuur appèl teen die uitspraak aanteken, maar dit het die appèl uiteindelik laat vaar.

Ironies genoeg het genl. Khehla Sitole, tans nasionale polisiehoof en die een wat Jacobs in Maart 2018 as nasionale hoof van misdaadintelligensie aangestel het, hom in die jongste wending verplaas.

Soos Woensdag berig is, het Jacobs vandeesweek twee briewe van Sitole ontvang.

In een brief word Jacobs se skorsing opgehef en in ’n tweede brief, wat ook Dinsdag ontvang is, word Jacobs ingelig dat hy met onmiddellike effek na die inspektoraat-afdeling oorgeplaas is.

Weer is die woorde “dis in die beste belang van dienslewering vir die polisie” gebruik om Jacobs se verplasing te regverdig.

Jacobs is dié keer nie die geleentheid gegee om redes te verskaf hoekom hy nie verplaas moet word nie.

Dit blyk nou egter iemand anders neem reeds Jacobs se nuwe rol op.

Jacobs moet Donderdag 4 Maart by die inspektoraat-afdeling aanmeld.

LEES OOK: Vrae oor verplasing van geskorste hoof van misdaadintelligensie

Waarom was Jacobs geskors?

Jacobs en vyf van sy kollegas by misdaadintelligensie - genl.maj. Maperemisa Lekalakala, brig. Deon Lombard, kol. Isaac Waljee, kol. Manogaran Gopal en kol. Bale Matamela - is in Desember verlede jaar geskors op grond van ’n verslag van die inspekteur-generaal van intelligensie oor die aankoop van persoonlike beskermende toerusting.

Die inspekteur-generaal het bevind dat die geld uit misdaadintelligensie se geheime rekening betaal is en dat dit as ’n onreëlmatige uitgawe beskou word.

Die ses het hulle verlede Woensdag tot die arbeidshof gewend nadat dit geblyk het dat hulle nie ’n regverdige tugverhoor gaan kry nie.

Nadat die polisie teen Vrydag nog nie aangedui het of hy die saak gaan teenstaan of alternatiewelik opponerende hofstukke gaan indien nie, het die arbeidshof in Johannesburg op Woensdag 3 Maart gelas dat die polisie Jacobs en sy kollegas se regskoste tot op datum moet betaal.

Die staatsprokureur het verlede week in sy skrywe aan Jacobs en die ander se regsverteenwoordigers aangedui dat die kennisgewing waarin die polisie aandui dat hy die arbeidsgeskil gaan teenstaan, teen Donderdag 25 Februarie by die hof ingedien sal wees.

Hulle sou dan teen Vrydag 26 Februarie die opponerende stukke by die hof ingedien het. Dit is glad nie gedoen nie.

Die polisie het nou kans tot 13 Maart om sy hofstukke in te dien.

Brig. Vish Naidoo het Woensdag in reaksie gesê dat die polisie se bestuur nog nooit die skorsing van Jacobs ontken of bevestig het nie. “Dit was nog altyd die polisiebestuur se standpunt dat sulke aangeleenthede intern is en as sulks hanteer word.”

Meer oor:  Peter Jacobs  |  Arbeidshof  |  Polisiebestuur  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.