Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
James Selfe kry nuwe pos; Ryan Coetzee terug by DA
James Selfe

James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, gaan in Oktober afstaan van dié rol in die partyleierskap wat hy die afgelope 19 jaar beklee het. ’n Nuwe pos, DA-hoof van staatsbestuur, is op die horison vir hom.

Ryan Coetzee, ’n hoogs suksesvolle strateeg, is onderweg terug na die DA.

Mmusi Maimane, DA-leier, het Sondag dié aankondigings in die party se hoofkantoor in Johannesburg gedoen ná die vergadering van sy federale raad die afgelope twee dae.

Die party betree binnekort ’n periode van “oop en eerlike” introspeksie oor onder meer die party se Mei-verkiesingsuitslae en groeistrategieë.

Maimane het die 2019-verkiesingsuitslae in die algemeen as “diep teleurstellend” bestempel. Die DA se steun het vanaf 22,23% in die 2014-verkiesing gedaal tot 20,77% in die jongste verkiesing.

“Ons sal nooit die verlies van kiesers vier nie. Ons is nie blind vir die verlies van steun in sekere gebiede nie en is ook nie doof vir die stemme van diegene wat gekies het om ’n ander party te steun nie. Ons sal werk om die verlore kiesers terug te wen en kiesers te konsolideer wat by ons gestaan het.”

Die party se strukture en beleid sal in die volgende vier maande deur ’n paneel onder leiding van Coetzee deeglik hersien word. Die paneel sal onder meer kyk na die party se vermoë om sy doelwitte te bereik om ’n grondwetlike “liberale demokratiese alternatief” vir die ANC te bou.

Ryan Coetzee Foto: Beeld

Die DA se vertoning in die afgelope algemene verkiesing sal ontleed word en die kollig sal val op onder meer die kapasiteit van die partyleierskap en openbare verteenwoordigers, sy politieke identiteit, beleidsplatform, strategie, struktuur, prosesse en die bedryf daarvan.

Die paneel sal sy werk voor die party se volgende federale raadsvergadering in Oktober afhandel.

Benewens Coetzee, wat al hoogs suksesvolle verkiesingstrategieë vir die DA gelei het, sal ’n aantal ander onafhanklike paneellede binnekort aangekondig word.

Maimane het ook aangekondig dat Selfe besluit het om uit te tree as voorsitter van die federale raad – ’n amp wat hy die afgelope 19 jaar beklee het.

“In dié tyd was sy bydrae tot die groei van die DA sowel as die land se demokrasie ontsaglik.”

Selfe gaan nou aan hoof staan van die party se staatsbestuureenheid en die taak hê om DA-regerings te ondersteun om beter diens te lewer.

“Dié eenheid sal sterk leierskap vereis om te verseker dat ons dienslewering tot die volgende verkiesing versnel. James het sowel die vaardighede as die institusionele kennis om aan hoof van die nuwe eenheid te staan en ek verwelkom die besluit.”

’n Besluit sal op die party se volgende federale raad geneem word oor hoe die proses sal ontvou om Selfe te vervang.

Meer oor:  James Selfe  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.