Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Jammer nie genoeg, maak rassisme strafbaar’

Jammer is nie genoeg nie, was John Jeffery, adjunkminister van justisie, se waarskuwing aan diegene wat rassistiese uitsprake maak.

LP’s het rassisme gister in die parlement gedebatteer.

Jeffery het gesê die vlaag rassistiese voorvalle die laaste tyd het gewys hoe belangrik dit is om haatspraak deel van die wetsontwerp op haatmisdade te maak.

Volgens hom is die nasionale konsepplan oor rassisme gereed vir openbare insette.

“Maar is dit genoeg?” het hy gevra.

“Rassistiese uitsprake gaan voort, ondanks openbare verontwaardiging onder swart en wit Suid-Afrikaners. Mense dink dat hulle jammer kan sê en dan voortgaan asof niks gebeur het nie. Dit is hoekom ons rassisme moet strafbaar moet maak.”

Jeffery het gesê die voorgestelde Wetsontwerp op Uitwissing van Haatmisdade en Haatspraak het aanvanklik haatspraak uitgesluit weens die ingewikkelde aard daarvan.

“Maar die afgelope jaar se gebeure het gewys hoekom haatspraak as ’n strafregtelike oortreding ingesluit moet word.”

Volgens Jeffery beteken dit dat enigeen wat doelbewus haat wat op onder meer ras gegrond is teen ’n persoon of groep verkondig en so skade berokken, hom aan haatspraak skuldig sal maak.

Skade sluit ook emosionele skade in.

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het op sy beurt gesê: “Indien nodig, sal selfs die Grondwet gewysig moet word.”

Hy het nie verder uitgebrei oor hoe dit gedoen moet word nie.

Mthethwa het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om seker te maak dat “rassiste ontbloot en geïsoleer word as sosiale uitgeworpenes”.

“Daar is rassiste in ons midde en om dit te erken, is een stap nader aan ’n oplossing. As hulle in jou organisasie is, hetsy politieke en geloofsorganisasies, of in jou sakeonderneming voorkom, skop hulle uit, anders is jy medepligtig en ook een van hulle.”

Mthethwa het ook gekap na rassiste wie se aanvalle ’n aanslag op die mensdom is. “Die gevolge van sulke denke en reaksies van politieke organisasies en sommige in die private sektor, plekke van aanbidding en meer onlangs ook ’n regter, kan volksmoord aanwakker en ons terugneem na die donkerste dae van apartheid.”

Hy het ook gemaan dat “rassisme nie net besig is om ons metafories dood te maak nie, maar ook letterlik”.

Toe Sej Motau, DA-LP, aan die beurt kom, het ANC-LP’s vinnig geskree: “Kohler-Barnard.”

Die DA word telkens uit die ANC-banke gepak oor sy hantering van ’n omstrede twiet van sy parlementslid, Dianne Kohler-Barnard.

Mncedisi Filtane, UDM-LP, het op sy beurt gesê daar kan geen nasiebou en eenheid wees solank as wat daar ekonomiese ongelykheid is nie.

“Ons leef sedert die begin van ons demokrasie op ’n kosmetiese reënboog van versoening. Ons kan nie rassisme bekamp met ekonomiese ongelykheid waar die minderheid die grootste voordeel trek nie.”

Dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep, het die regering gekap oor “ ’n ANC-benadering tot rassisme”.

Volgens hom is daar die persepsie dat slegs sekere mense in staat is tot rassisme.

“Rassisme in alle vorme moet verwerp word. Ek kan julle verseker dat geen ras of volk of groep, swart of wit, so edel en wonderlik is dat hulle nie in staat is tot rassisme nie. Daar is slegte mense en rassiste in alle gemeenskappe.”

Mulder het ook gesê die land kon al ver gevorder het met die uitwissing van rassisme as dit nie was vir regeringsbeleid wat dit teëwerk nie.

Meer oor:  John Jeffery  |  Parlement  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.