Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jansalies naas staatmakers sak in Cyril se skrum
Ronald Lamola Foto: Daily Sun

Ronald Lamola (minister van justisie): Hy was onderleier van die ANC-jeugliga in die Malema-dae en een van die eerstes wat in die nadraai van die konstitusionele hof se Nkandla-uitspraak in Maart 2016 geëis het dat Jacob Zuma bedank.

By Rapport se grondberaad in Augustus 2018 het hy gesê die voorgenome wysiging van die Grondwet moet “verwarring opklaar” maar dat private grondbesit moet voortbestaan.

Ebrahim Patel (minister van handel en nywerheid): Op sy wagbeurt as minister van ekonomiese ontwikkeling (2009-2019) het die ekonomie stadiger as die bevolking begin groei.

Sy fokus is die gebrek aan mededinging in die ekonomie.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van telekommunikasie en die posdiens. Foto: Twitter

Stella Ndabeni-Abrahams (minister van kommunikasie): “Ek wil Suid-Afrikaners en die media van my toewyding tot mediavryheid verseker.

Ek is opreg spyt oor die voorval,” het Ndabeni-Abrahams in Februarie gesê nadat sy SAUK-joernaliste weggejaag het by ’n ANC-verkiesingsgeleentheid waar lede van die publiek begin staak het oor dienslewering.

Thulas Nxesi (minister van indiensneming en arbeid): ’n Zuma-marionet wat gelieg het oor Nkandla toe hy in Januarie 2013 gesê het: “Daar is geen bewyse dat enige huis van die president gebou is met staatsgeld nie.”

Ayanda Dlodlo (minister van staatsveiligheid): Dlodlo was in die jare 2000 ’n direkteur by die Skerpioene.

Sy is van bedrog en diefstal aangekla, maar later onskuldig bevind op al die aanklagte teen haar.

Jackson Mthembu Foto: Felix Dlangamandla

Jackson Mthembu (minister in die presidensie): “Wie de hel dink hulle is hulle?” het hy oor die Guptas getwiet nadat Mcebisi Jonas ­(voorheen adjunkminister van finansies) se onthulling in Maart 2016 dat die Guptas hom ­minister van finansies wou maak.

Val ook gereeld vir Magashule aan as hy die kans kry. Mthembu was hoofsweep onder Zuma en Ramaphosa.

Thoko Didiza (minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling): Didiza was tussen 1999 en 2006 minister van landbou.

Besteding aan grondhervorming het eers in 2007 beduidend verhoog.

Die landboubedryf het haar aanstelling verwelkom.

Zizi Kodwa (adjunkminister van staatsveiligheid): Kodwa het alles in sy vermoë gedoen as woordvoerder van die ANC-jeugliga om te verseker dat Jacob Zuma in Desember 2007 as ANC-president verkies word.

In 2006, buite die hof waar Zuma verhoor is weens beweerde verkragting, het Kodwa aan Zuma-ondersteuners gesê: “Ons moet die hond slaan tot die eienaars uitkom.”

Hy het later ontken dat dit ’n verwysing was na die vrou wat gesê het Zuma het haar verkrag.

Dit was eerder ’n “metafoor” vir die Skerpioene.

Kodwa het egter van mening verander en Ramaphosa in Desember 2017  by Nasrec gesteun.

Dr. Aaron Motsoaledi Foto: Ntswe Mokoena

Dr. Aaron Motsoaledi (minister van binnelandse sake): Die man wat met die bekendstelling van die wetsontwerp oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in Junie 2018 gesê het dit is die tesourie se probleem waar die geld vir die NGV vandaan sal kom, moet nou die gemors opruim wat Malusi Gigaba, opperste staatska­per, veroorsaak het.

Patricia de Lille (minister van openbare werke en infrastruktuur): “Ons moet meer grond vir behuising gee,” het De Lille, leier van Good, die afgelope week gesê.

As DA-burgemeester van Kaapstad het sy gereeld gevra dat grond in staatsbesit vir behuising gebruik moet word.

Tito Mboweni (minister van finansies): Só skepties is hy oor die vermoë van staatsbeheerde ondernemings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens om reggeruk te word, dat hy in April aan die Financial Times gesê het: “As dit my persoonlike geld was, sou ek nie een sent in die SAL gesit het nie. Ek word nie toegelaat om daaroor te praat nie.”

In Januarie het hy op Twitter gesê hy “stem nie saam met die uitfasering van Afrikaans as ’n onderrigmedium by die Universiteit van Pretoria nie. Ons skiet onsself af as ’n land. Julle sal dit oor 30 jaar berou.”

Pravin Gordhan (minister van openbare ondernemings): Gordhan is die punt van Ramaphosa se spies in die stryd teen korrupsie in staatsondernemings.

Hy het onbehoorlik opgetree deur in 2010 vir Ivan Pillay met vervroegde pensioen te stuur by die SA Inkomstediens, volgens die openbare beskermer, maar hy betwis dit.

In 2018 het hy eers vir Phakamani Hadebe, die nuwe uitvoerende hoof van Eskom, opdrag gegee om streng op te tree teen vakbonde, en toe vir Hadebe verbied om met sy aanbod van 0%-verhogings deur te druk.

Toe hy tussen 2009 en 2014 minister van finansies was, het begrotingstekorte skerp toegeneem, asook staatskuld as persentasie van BBP.

Cassel Mathale is die nuwe adjunkminister van polisie.

Cassel Mathale (adjunkminister van polisie): Mathale, ’n boesemvriend van Julius Malema, het in 2013 onder ’n wolk bedank as premier van Limpopo, waar vyf departemente in Desember 2011 deur die nasionale regering weens wanbesteding onder administrasie geplaas is.

Fikile Mbalula (minister van vervoer): Mbalula, wat sê die ANC sou tot by 40% geval het as dit nie vir Cyril Ramaphosa was nie, het Ramaphosa se kandidatuur by Nasrec aggressief beveg en hom vir die kamp van Nkosazana Dlamini-Zuma beywer.

Voor Nasrec het hy op Twitter gesê: “Die enigste ding wat NDZ kan keer, is bedrog en anargie en albei sal in die kiem gesmoor word.”

Die twiet is sedertdien, soos honderde ander, verwyder.

Hy was ook in die nuus toe hy in 2016 as minister van sport ’n vakansie in Dubai geniet het op die koste van ’n maatskappy wat later sportklere vir Saskok se atlete moes maak.

Nathi Mthethwa (minister van sport, kuns en kultuur): Hy is verlede maand voor die Zondo-kommissie daarvan beskuldig dat hy druk op aanklaers geplaas het om genl. Johan Booysen, die voormalige Valke-hoof in KZN, weens ongegronde bewerings teen hom te laat vervolg.

Dr. Blade Nzimande (minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie): Nzimande het hom die gramskap van betogende studente op die hals gehaal toe hy in 2015 as minister in dié portefeulje gesê het: “As die studente nie die regering se standpunt aanvaar nie, dan begin ons ’n beweging van ons eie: Students must fall.”

Twee leiers van Fees Must Fall is intussen ingehuldig as LP’s.

Former KwaZulu-Natal premier Senzo Mchunu (Siyanda Mayeza, City Press)

Senzo Mchunu (minister van staatsdiens en administrasie): Hy was Ramaphosa se voorkeurkandidaat vir sekretaris-generaal van die ANC by die Nasrec-konferensie in 2017, maar is deur Ace Magashule geklop.

Mchunu, ’n voormalige KZN-premier, het in Februarie regstellende aksie by Eskom gekritiseer: “Wat gebeur het by die staatsondernemings is dat die mense wat ons vertrou het, wat swart bestuurders was, vals is. Hulle het die kuns vervolmaak om mislukkings te wees en te steel.”

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede): In 2017, toe Ramaphosa nog haar geswore vyand was, het sy getier teen witmonopoliekapitaal en gesê kinders word in voormalige model C-skole geleer om die ANC te haat.

Nou word sy as ’n Cyril-lojalis beskou.

Lindiwe Zulu (minister van maatskaplike ontwikkeling): “Hulle het ’n man afgeskryf wat die toekoms is.” – Desember 2015 oor Des van Rooyen, wie se aanstelling as minister van finansies deur die sakewêreld gekritiseer is.

Dr. Zweli Mkhize (minister van gesondheid): Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is volgens hom ’n vereiste – maar Suid-Afrikaners moet nog hul eie, private mediese fondse kan hê, het Mkhize in 2010 as in lid van die ANC se subkomitee oor gesondheid gesê.

Gwede Mantashe (minister van minerale en energie): Mantashe, ’n Ramaphosa-man, het nou die verantwoordelikheid oorgeneem vir energie ook.

Dit het voor die Zondo-kommissie geblyk hy het gunste van Bosasa ontvang, in sy geval ’n sekuriteitstelsel vir sy huis.

Die mynbedryf het by Ramaphosa gesmeek om Mantashe in die minerale-portefeulje te behou.

Meer oor:  Ministers  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.