Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jeug regering se 'grootste prioriteit’ – Cyril

Alles wat die regering doen, is om die lewens van jeugdiges te verbeter, het pres. Cyril Ramaphosa Maandag in sy weeklikse nuusbrief geskryf.

Die presidensie het Maandag gesê Ramaphosa sal Woensdag se amptelike Jeugdagviering in KwaZulu-Natal onder streng Covid-19-maatreëls lei.

Die president het in sy nuusbrief gesê die versnelling van ekonomiese groei sal vereis dat werkloosheid onder die jeug getakel word. Die staat sal ook sy vermoë moet uitbou om sy ontwikkelingsrol te kan vervul.

Laat ons hierdie Jeugdag voortgaan om saam te werk as ’n nasie om hierdie groen lote te voed in ons strewe na ’n gesamentlike beter toekoms.

Vroeër is berig dat Statistieke Suid-Afrika aangekondig het dat veral werkloosheid onder die jeug in die eerste kwartaal van 2021 tot 63,3% gestyg het. Dit is mense tussen 15 tot 24 jaar oud wat nie skoolgaan of verder studeer nie.

Volgens Ramaphosa gaan Suid-Afrika tans in die Covid-19-pandemie deur die moeilikste tyd, “maar ons werk daagliks om ons grense van hoop uit te brei”.

“Ons sien die groen lote van ons ekonomie en is vol vertroue dat dit in beter geleenthede vir almal sal omskakel. Ons taak is nou om seker te maak dat jong mense gereed en in staat is om hierdie geleenthede aan te gryp en hul eie te skep.

“Laat ons hierdie Jeugdag voortgaan om saam te werk as ’n nasie om hierdie groen lote te voed in ons strewe na ’n gesamentlike beter toekoms.”

Volgens Ramaphosa is dit vir die regering die grootste prioriteit om meer geleenthede vir die jeug te skep en hulle daarin te ondersteun. Daarom dryf die regering ’n agenda van geteikende ingrypings om werkloosheid onder die jeug uit te wis.

“Dit sluit in die presidensiële indiensnemingstimulus, wat werkgeleenthede en lewensbestaan-ondersteuning vir talle jeugdiges verskaf het.”

Volgens Ramaphosa sal hy op Jeugdag ook ’n reeks bykomende maatreëls bekend maak om meer geleenthede vir die jeug te skep, sowel as om vaardigheidsontwikkeling te bevorder, jong entrepreneurs te ondersteun en die volle deelname van die jeug in die ekonomie te kan bewerkstellig.

Hy het gesê Jeugdag is ’n herinnering aan die ontsaglike mag wat die jeug het om ’n beter toekoms vir hulself te skep.

“Die jeug in die land het baie probleme. Jong mense het op die voorgrond van aktivisme gebly, of dit nou in die nastreef van gratis onderrig of teen maatskaplike euwels soos geslagsgeweld is.”

Volgens hom moet Suid-Afrika ook baie meer doen om te verseker dat die boodskap van die 1976-jeugopstande in Soweto en elders teen die apartheidsregering en die verpligte gebruik van Afrikaans as onderrigmedium in skole, getrou aan die nuwe generasies jeugdiges oorgedra word.

“Dit is die kollektiewe verantwoordelikheid van die regering, skole, tersiêre instellings, ouers, families, musikante, kunstenaars en die hele samelewing.

“Om die verhaal van 16 Junie lewend te hou, is ’n herinnering vir die hedendaagse generasie van die groot opofferings wat gemaak is om hul vryheid te verseker.”

Meer oor:  Werkloosheid  |  Politiek  |  Cyril Ramaphosa  |  Nuusbrief  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.