Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Jeug moet sê wát moet verander’
Bonginkosi Madikizela, waarnemende Wes-Kaapse DA-leier.Foto: Jaco Marais

Suid-Afrika se jeug moenie bloot op verandering aandring nie. Hulle moet sê presies wát verander moet word.

Dit was die strekking van Bonginkosi Madikizela, waarnemende Wes-Kaapse DA-leier, se Jeugdag-boodskap nadat dié party Vrydag ’n saamtrek in Khayelitsha gehou het.

“Jong mense moet ophou eis dat sekere aspekte van die samelewing verander word. Hulle moet dit eis wat hulle wil hê, en nie net bloot sê dat iets verwyder of verander moet word nie,” het hy gesê.

Madikizela, ook Wes-Kaapse LUR vir behuising, Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, en ander lede van die metroraad het Vrydag Jeugdag by die Ntlanganiso Secondary School in Khayelitsha gevier.

Sowat 500 lede van die DA Jeug het byeengekom om na Madikizela te luister.

“Ons weet presies hoekom ons hierdie dag vier. Die jeug van 1976 wou nie in Afrikaans onderrig word nie. Onthou, Afrikaans is nie net die taal van die onderdrukker nie, dit is ook die taal van die slawe. Dit is ’n taal wat vandag deur meer as die helfte van hierdie provinsie se bevolking gepraat word,” sê hy.

Jeugdag gedenk die uitbreek van die Soweto-opstande in 1976 waarin duisende leerlinge teen die verpligte gebruik van Afrikaans in skole betoog het. Talle is dood toe die polisie op hulle geskiet het. Een was Hector Pieterson (12). Die bekende foto deur Sam Nzima van die sterwende Hector in die arms van ’n medeleerling is die ikoniese vergestalting van die opstande.

Ons kan nie sê dat ons glad nie Afrikaans wil hoor nie.
Madikizela

Madikizela sê jong mense en veral studente wat verkies om in Afrikaans onderrig te word, se besluite moet gerespekteer word.

“Ons kan nie sê dat ons glad nie Afrikaans wil hoor nie. Ons moet eis dat studente in die taal van hul keuse onderrig word, nie dat Afrikaans heeltemal verwyder moet word nie. Dit sou onregverdig en ondemokraties wees.”

Hy sê ook dat daar nog te veel jong mense is wat nie die volle geskiedenis van Jeugdag verstaan nie.

“Daar is nog te veel jong mense wat hierdie dag nie ernstig opneem nie. Jong mense het gesterf op hierdie dag en dit sal vir ewig onthou moet word.”

Madikizela sê politici moet ophou om dié kwessies te verpolitiseer.

“Daar was die afgelope paar weke ernstige misdade teen jong meisies en jeugdiges. Dit is die kwessies wat ons saam met julle moet bespreek. Dit is die kwessies wat moet aandag kry. Ons moet ophou praat oor die ANC, maar liewers oor die kwessies wat jong mense raak.”

* Phumzile van Damme, DA-LP en die party se nasionale woordvoerder, was ook in Vrygrond naby Muizenberg waar sy sanitêre doekies aan minderbevoorregte meisies oorhandig het.

Meer oor:  Bonginkosi Madikizela  |  Wes-Kaap  |  Jeugdag  |  Da  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.