Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jeugdag: ‘Júlle is nie die verlore generasie nie’
 Cyril Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa praat Sondagmiddag op ’n Jeugdagbyeenkoms in Polokwane, Limpopo. Foto: GCSI

Daar is baie uitdagings, maar die vlam van hoop wat met die studenteopstande van 1976 gebrand het, brand steeds.

Dié vlam moet net groter en groter oopgedraai word, het pres. Cyril Ramaphosa Sondag op die amptelike Jeugdagvieringe in Polokwane in Limpopo gesê.

“Moenie hoop verloor nie en moenie dat die son sak vir jul drome nie,” het die president op die byeenkoms in die Peter Mokaba-stadion gesê.

“Dit is ongelukkig so dat maatskaplike probleme julle terughou, maar julle oë moet op die toekoms gefokus bly. Die meeste van julle was te jonk om die regstreekse gevolge van apartheid aan die lyf te voel, maar julle ervaar steeds die gevolge daarvan."

Adj.pres. David Mabuza was saam met hom op die verhoog.

“Die jong mense was nog altyd aan die voorpunt van ons demokratiese revolusie,” het die president gesê.

Die meeste van julle was te jonk om die regstreekse gevolge van apartheid aan die lyf te voel, maar julle ervaar steeds die gevolge daarvan.

“Ons is nog nie heeltemal bevry nie solank as wat miljoene van ons mense in armoede leef, werkloos is en daar ongelykheid in ons gemeenskap is,” het hy gesê.

“Die jeug van vandag is egter allesbehalwe die verlore generasie. Ondanks al die uitdagings is daar voorbeelde van jeugdiges wat vandag ’n groot sukses van hul lewe maak. Hulle gryp die lewe met albei hande aan. Daar is van die jong mense wat op ’n klein en groot skaal ’n verskil maak.

“Daar is byvoorbeeld Gabriella Mogale wat boumateriaal vir plakkershutte ontwerp het wat brandbestand is. Dan is daar Portia Mavhungu wat ’n meganisme ontwikkel het wat mense met gestremdheid help om die toilet met menswaardigheid te gebruik. Daar is iemand soos Tinashe Chipako, ’n jong ingenieurstudent wat op die kampus van die Universiteit van Kaapstad ’n kunsmisprojek ontwikkel het wat water spaar. Thato Kgatlhanye se maatskappy het skoolsakke gemaak van herwinde plastiek en wat met sonkrag werk. Dit kan dus as lig gebruik word om by te lees."

Hy het verskeie ander voorbeelde genoem.

“Daar is jeugdiges in Kaapstad wat vliegtuie bou, daar is jeugdiges in Gauteng wat watersuiweringstelsels ontwerp en daar is ander wat smiddae stroombane en prototipes bou in koderingsklubs in townships van Langa tot Ivory Park,” sê Ramaphosa.

Hy sê die Youth Employment Service-program het die laaste paar maande 18 000 werksgeleenthede geskep en infrastruktuurondersteuning deur gemeenskapsentrums verskaf.

Werkskeppingsberaad

Die president sê op die werkskeppingsberaad wat verlede jaar in Midrand gehou is, is besluit om wetenskap, tegnologie, die kunste en wiskunde op skoolvlak te prioritiseer. Kodifisering en dataontleding sal met die oog op die vierde nywerheidsrevolusie skoolvakke word.

“Ons kort egter nie net programmatuuringenieurs nie. Ons het ook ’n tekort aan motorwerktuigkundiges, elektrisiëns, loodgieters, waterkultuurspesialiste en akwakultuurlandbouers.”

Die regering sal alles in sy vermoë doen om die jeug te help om te studeer om hulself verder te bekwaam.

Hy sien ook uit na die dag wanneer meer jong mense hul plek in die parlement, die kabinet en provinsiale uitvoerende rade inneem, sê Ramaphosa.

Onder die groot uitdagings tel MIV/vigs en die toename in alkohol- en dwelmmisbruik. Dwelmgebruikers word al hoe jonger en dwelms speel ’n ál groter rol in onder meer geweld, misdaad en selfdood.

Meer oor:  Cyril Ramapahosa  |  Polokwane  |  Jeugdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.