Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jeugliga sal Ramaphosa ‘verdedig’

Die ANC-jeugliga sal pres. Cyril Ramaphosa verdedig teen ’n beweerde samesweringskomplot om hom as ANC-leier uit die kussings te lig.

Collen Maine, leier van die jeugliga, het Woensdag by navraag gesê die ANC moenie toelaat dat “samesweringsteorieë” die party verdeel nie en gesê die jeugliga sal Ramaphosa verdedig.

Collen Maine, leier van die ANC-jeugliga. Foto: Cornél van Heerden

Dit kom nadat die Sunday Times Sondag berig het oor ’n komplot in die ANC deur die sogenaamde premiersliga – stoere ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma – teen Ramaphosa.

Zuma, Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, Supra Mahumapelo, uitgeskopte premier van Noordwes, Meokgo Mathuba, sekretaris-generaal van die ANC-vroueliga, en Thanduxolo Sabelo, sekretaris van die ANC-jeugliga in KwaZulu-Natal, het luidens die Sunday Times glo verlede Donderdag in ’n Durbanse hotel vergader.

’n Terugvegpoging van die Zuma-faksie is glo op die vergadering bespreek. Dit sluit in beweerde moontlike hofstappe waarin die uitslag van verlede jaar se verkiesing by die ANC se 54ste nasionale konferensie by Nasrec bevraagteken word. Die groep beweer daar was grootskaalse ongerymdhede op takvlak waar besluit is watter afgevaardigdes die konferensie moes bywoon.

Die ANC het die beweringe onder meer as “sensasionele twak” verwerp en dit as “kwaadwillige skinderpraatjies” afgemaak.

Maine het daarop gewys dat ANC-leiers van tyd tot tyd met mekaar ontmoet.

“Tweedens wil ek sê dat ek nie wil glo dat die sekretaris-generaal van die ANC deel sal wees van enige groep wat daarop uit is om die president, wat demokraties verkies is, te ondermyn nie.”

Alle ANC-lede het volgens Maine die verantwoordelikheid om hulle agter Ramaphosa te skaar, ongeag van hoe hulle by Nasrec gevoel het. “Pres. Ramaphosa is die president van die ANC tot 2022 en sal ook in sy posisie as staatspresident aanbly ná volgende jaar se verkiesing,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.