Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jhb-metro: ‘Verlies kan ’n wins vir DA wees’

Die DA kan die verlies van die Johannesburg-metroraad tot sy voordeel inspan.

Dié party en sy koalisievennote is Woensdag bloedneus geslaan toe hulle politieke beheer oor die Johannesburg-metro verloor het met die verkiesing van ’n plaasvervanger vir Herman Mashaba wat as burgemeester bedank het.

Stevens Mokgalapa, die Tshwane-burgemeester, en Rachel Mathebe, die Tshwane-speaker, is ’n dag later deur middel van ’n mosie van wantroue uit hul poste verwyder.

John SteenhuisenFoto: Melinda Stuurman

Hulle was egter Vrydag laatmiddag terug in hul poste nadat die DA dié besluite suksesvol in die hof betwis en ’n dringende hofbevel aan die party toegestaan is.

Prof. Erwin Schwella, Bellvillese politieke ontleder verbonde aan die Tilburg-universiteit in Nederland en die Hugenote-kollege op Wellington, het Vrydag by navraag gesê dit sal die DA waarskynlik in dié stadium baat om die rol van opposisieparty in dié twee strategiese metrorade in Gauteng te speel en politieke munt uit die situasie te probeer slaan.

Hy sê daar was nie ’n manier waarop die DA ná Mashaba se bedanking en die chaos om die Tshwane-burgemeester eintlik kon verwag het om aanslae van die ANC en die EFF af te weer nie.

“Ek dink hulle het dit verwag. Eintlik dink ek dit sal beter wees vir die party om in opposisie te gaan. Hulle kan politieke munt daaruit slaan.”

Hy sê as die DA die ANC toelaat om die metrorade oor te neem, het hy sowat 18 maande tot die volgende munisipale verkiesing in 2021 waarin hy nie homself hoef te verdedig nie.

“Gegewe die onstabiliteit van die politieke situasie kan dit gebeur dat dit in die volgende 18 maande dalk baie slegter gaan in Tshwane en Johannesburg as wat dit gegaan het onder DA-beheer. Dit sal die party in ’n posisie plaas om op die aanval te gaan. Dit is my aanvoeling,” sê Schwella.

Die burgemeesterspos in Johannesburg was vakant nadat Mashaba in Oktober sy bedanking aangekondig het kort nadat Helen Zille tot voorsitter van die DA se federale raad verkies is.

Gegewe die onstabiliteit van die politieke situasie kan dit gebeur dat dit in die volgende 18 maande dalk baie slegter gaan in Tshwane en Johannesburg as wat dit gegaan het onder DA-beheer. Dit sal die party in ’n posisie plaas om op die aanval te gaan.

Mmusi Maimane, voormalige DA-leier wat onder druk was weens die verliese wat die DA in die nasionale verkiesing in Mei gely het, se bedanking het dae later gevolg.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het Vrydag die verlies van die metroraad as teleurstellend bestempel, maar sê dit is reeds ’n geruime tyd duidelik dat dié koalisies se dae getel was. Die skrif was teen Mei reeds aan die muur toe die EFF eise oor hierdie koalisieregerings begin stel het.

Steenhuisen sê die EFF het gewag op die kans om ’n punt aan die DA te bewys. Hy sê dit is die aard van koalisieregerings – “dit is nie baie stabiele vorm van regering nie”.

“Natuurlik is dit teleurstellend, maar ons loop met ons koppe omhoog.”

Oor die afwesigheid van die DA se nasionale leierskap by die twee raadsvergaderings die week, het Steenhuisen gesê die federale leierskap (Fedex) het ’n mandaat aan ’n onderhandelingspan bestaande uit onder meer John Moodey, DA-leier in Gauteng, en Mike Moriarty, DA-voorsitter in Gauteng, gegee om teenwoordig te wees op albei raadsvergaderings.

“Hulle was regstreeks in kontak met my en het my op hoogte gehou van die gebeure. Ons was in konstante gesprekvoering.”

Oor diegene wat op sosiale media die skuld vir die situasie op Zille pak, sê Steenhuisen dit is “totale onsin”.

“Daar is absoluut geen waarheid daarin nie.”

Zille sê op haar beurt dit is “totale oneerlikheid” van die EFF se netwerk van sosialemediabotte om te probeer om haar vir die situasie te blameer. “Aan die ander kant moet ek seker gevlei voel. Hulle dink duidelik ek is Superwoman. Daar is niks wat in die Suid-Afrikaanse politiek gebeur sonder dat iemand dit aan my toedig en die Twitter-trolle en -botte met dié gemors voed nie. Gelukkig het die meeste verstandige Suid-Afrikaners geleer om Twitter en baie van wat op sosiale media gebeur, te ignoreer.”

Meer oor:  Erwin Schwella  |  Da  |  John Steenhuisen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.