Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jhb se burgemeester ontken enige belangebotsing
Geoff Makhubo, uitvoerende burgemeester van die Johannesburg, getuig Vrydag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Geoff Makhubo, uitvoerende burgemeester van die Johannesburg-metro, ontken daar was ’n belangebotsing toe hy destyds as amptenaar verantwoordelik was vir die einste munisipale kontrak waaruit sy maatskappy, Molelwane Consulting, geldelik voordeel getrek het.

Makhubo het Vrydag in ’n sitting van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig oor ’n kontrak wat in 2006 deur die Johannesburg-metro aan Regiments Fund Managers, ’n Gupta-verwante maatskappy, en Molelwane toegeken is om die metro se delgingsfonds te bestuur.

Intussen is die ooreenkoms verleng tot 2015, terwyl Makhubo in 2011 as burgemeesterskomiteelid vir finansies aangestel is. Die kontrak het onder sy portefeulje geval.

In 2018 het Makhubo in ’n skriftelike antwoord aan die ondersoekende joernalistiek-eenheid amaBhungane geskryf dat die kontrak nie op ’n belangebotsing kan neerkom nie, want hy het in 2011 as lid van Molelwane bedank.

Inligting van die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) toon egter dat hy eers amptelik in 2019 bedank het en tot in daardie stadium die meerderheidsaandeelhouer was.

Ek het niemand mislei (oor die bedanking) nie, want die plan was om van my aandele ontslae te raak.

Makhubo beweer hy het destyds sy prokureur opdrag gegee om ’n deregistrasieaansoek by die CIPC in te dien. Hy weet nie hoekom die proses sowat agt jaar lank gesloer het nie.

“Ek het niemand mislei (oor die bedanking) nie, want die plan was om van my aandele ontslae te raak.”

Hy het egter toegegee dat hy deurgaans in beheer van Molelwane se geldsake gebly het en ook die enigste mens was wat transaksies kon goedkeur.

Adv. Matthew Chaskalson, getuienisleier van die kommissie, het gesê tussen 2006 en 2014 het Regiments R35 miljoen aan Molelwane betaal, en R5 miljoen is uit dié bankrekening na Makhubo se persoonlike bankrekening oorbetaal.

Regiments was Molelwane se hoofbron van inkomste.

Ingevolge die memorandum van ooreenkoms tussen Regiments en Molelwane, wat voorgelees is, sou Molelwane sowat 10% van die bestuursgelde ontvang en ’n persentasie van die geld waarmee die fonds sy groeiteiken oortref het om onder meer “strategiese verhoudinge” met die stad te handhaaf.

Makhubo het erken dat hy in 2015 op ’n vergadering van die burgemeesterskomitee was wat die groen lig vir ’n nuwe kontrak van vyf jaar met Regiments vir die bestuur van die delgingsfonds gegee het.

Chaskalson het dit aan Makhubo gestel dat dit ’n belangebotsing is, omdat hy voordeel getrek het uit ’n kontrak waaroor hy die oorsigrol as burgemeesterskomiteelid vir finansies gehad het.

Makhubo het dit ontken. “As daar verkeerde dinge was, sou ons opgetree het. Ek sou dit nie geïgnoreer het nie.”

Chaskalson het ook uitgelig dat Regiments meer as R200 miljoen van die delgingsfonds in Denel belê het, hoewel Regiments ook betaling vir ’n lening van Denel van die metro ontvang het. Later kon Denel glo weens finansiële probleme nie die lening aan die metro terugbetaal nie.

Makhubo het ontken dat hy van die kwessie geweet het.

As daar verkeerde dinge was, sou ons opgetree het. Ek sou dit nie geïgnoreer het nie.

Later het Chaskalson ’n e-pos van 13 November 2010 voorgelees wat Eric Wood, ’n voormalige direkteur van Regiments, aan ’n kollega gestuur het met die onderwerp: “CoJ cheat sheet”.

In die e-pos verwys Wood na ’n aangehegte dokument wat “Geoff” onder oë gehad het en die titel van die dokument is “Geoff Makhubo briefing”.

In die dokument skryf Wood onder meer dat “rigting aan die tesourie gegee moet word” oor ’n R1 miljard-lening wat Regiments aan die metro wou “verkoop”.

Makhubo, wat in 2010 die ANC-tesourier in die groter Johannesburg-streek was, het gesê hy kan nie onthou of hy die e-posse of die dokument al gesien het nie.

Chaskalson het ook na ’n dokument verwys waarvolgens Makhubo in 2013 minstens twee tjeks onderteken het om R300 000 kontant uit Molelwane se rekening te onttrek.

Die getuienisleier wou weet hoekom Makhubo sulke groot bedrae kontant nodig gehad het.

“Dit was om vir mense te gee. In dié tyd het ek ook persoonlike uitgawes gehad, soos vir meubels en die opknapping van my swembad,” het Makhubo gesê.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Geoff Makhubo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.