Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jiba hou wél by spertyd oor voorlegging
Adv. Shaun AbrahamsFoto: Jaco Marais

Adv. Nomgcobo Jiba, adjunkdirekteur van openbare vervolging, sal by pres. Cyril Ramaphosa se sperdatum hou om te verduidelik waarom sy in haar pos moet aanbly.

“Ja, ek gaan dit aan die president stuur en dit is vir hom om daaraan aandag te gee,” het adv. Zola Majavu, Jiba se regsverteenwoordiger, Vrydag gesê.

Majavu sê sy kliënt sou die voorleggings Vrydag teen kantoorsluiting aan Ramaphosa stuur.

Jiba en Lawrence Mrwebi, hoof van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, is vroeër van die rol van advokate geskrap weens hul hantering van aanklagte teen Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie.

Hul status is later deur die appèlhof herstel en albei

het onlangs na die nasionale vervolgingsgesag (NVG) teruggekeer.

Majavu wou nie sê of Jiba die appèlhofbeslissing aanvoer as ’n rede waarom sy nie geskors moet word nie.

“Ons het voorleggings oor ’n verskeidenheid kwessies gedoen, maar ek is nie by magte om dit met die media te deel nie,” sê hy.

Mrwebi is ook tot Vrydag gegee om voorleggings te doen oor waarom hy sy werk moet behou.

Adv. Nomgcobo JibaFoto: Argief
Lawrence MrwebiFoto: Herman Verwey

Sowel Mrwebi as Jiba sal daarna ondersoek word om te bepaal of hulle bekwaam is vir hul ampte.

Hul terugkeer na die NVG kan egter kortstondig wees.

Die Algemene Balieraad van Suid-Afrika het aansoek gedoen om verlof om teen die appèlhof se aansoek te appelleer.

Shaun Abrahams, direkteur van die NVG, is ook gewikkel in ’n stryd om sy werk te behou. Die konstitusionele hof sal Maandag uitspraak lewer oor die grondwetlikheid van sy aanstelling nadat die hooggeregshof in Pretoria beslis het dat die pos van nasionale direkteur van openbare vervolgings (NDOV) vakant is.

Die hofaansoek is deur Corruption Watch, Freedom Under Law en die grondwetwaghond Casac gebring.

Die hooggeregshof het bevind oudpres. Jacob Zuma se optrede in verband met Mxolisi Nxasana se uittrede as NDOV was ongrondwetlik.

Nxasana het ’n goue handdruk van R17,3 miljoen aanvaar om die pos te verlaat nadat die verhouding tussen hom en Zuma versuur het.

Lawson Naidoo, Casac-woordvoerder, sê die organisasie is bekommerd oor die stabiliteit en integriteit van die NVG.

“Die proses is lank vertraag, maar is nou uiteindelik op dreef,” sê Naidoo. “Die gepaste stappe moet gevolg word om Jiba en Mrwebi te hanteer”.

“Casac was nog altyd en bly steeds besorg oor die stabiliteit en doeltreffendheid van die NVG.”

Meer oor:  Lawrence Mrwebi  |  Nomgcobo Jiba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.