Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jiba-hulle vertraag ondersoek teen OB

Die parlement sou reeds begin het met die proses om adv. Busisiwe Mkhwebane te verwyder as openbare beskermer (OB) as dit nie daarvoor was dat die advokate Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi gevra het dat hul skorsing uit die nasionale vervolgingsgesag deur die parlement heroorweeg word nie.

Adv. Busisiwe Mkhwebane (in rooi) verlede Sondag by die Alive Alive in Jesus Ministries in Klipfontein View in Midrand. Sy het gesê sy het gekom vir vertroosting ná “pynlike, negatiewe ervarings deur die toedoen van die media en politici”. Foto: Gallo

Die portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste sal nou eers op 3 September vergader om Mkhwebane se bevoegdheid te oorweeg. Dit gaan die eerste werklike toets vir die dissipline in die ANC-koukus wees wat diep verdeeld is tussen die sogenaamde terugveg-kamp en die ondersteuners van pres. Cyril Ramaphosa.

Die vergadering op 3 September word gehou om te besluit op ’n proses om Mkhwebane se bevoegdheid te ondersoek. Sodra die ondersoek aan die gang is, is Ramaphosa daarop geregtig om haar uit haar amp te skors hangende die ondersoek.

Gratitude Magwanishe, voorsitter van die komitee, sê dit is ’n dringende kwessie waarvoor hy die komitee selfs tydens die huidige parlementêre reses sou byeenroep, veral as mens die hofsake tussen Mkhwebane, Ramaphosa en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in ag neem.

“Die komitee moet egter reeds in die reses besluit oor die afdanking van Jiba en Mrwebi wat deur die president geskors is as adjunkdirekteurs van nasionale vervolging weens ongeskiktheid vir die ampte,” sê Magwanishe.

Deesdae is die EFF vurige ondersteuners van die OB.

Jiba en Mrwebi het nou albei die parlement gevra om hul skorsing te heroorweeg.

“Hulle het tien dae tyd gehad om skriftelike voorleggings aan die portefeuljekomitee te maak. Die tien dae het Donderdag verstryk en ons gaan nou in die resestyd vergader om daaroor te besluit. Eers daarna kan ons aan die DA se versoek oor die openbare beskermer aandag gee,” sê Magwanishe

“Die vraag oor die openbare beskermer se bevoegdheid ontstaan ná die konstitusionele hof se verwerping van haar appèl teen die hofbevel dat sy in haar persoonlike hoedanigheid ’n gedeelte van die Reserwebank se regskoste moet betaal, asook die hooggeregshof se omverwerping van haar Estina-ondersoek,” sê Magwanishe, wat in Junie deur die ANC aangewys is as voorsitter van dié belangrike komitee.

Sy aanwysing het met drama in die ANC-koukus gepaardgegaan.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het Faith Muthambi, ’n sleutelfiguur in die sogenaamde terugveg-kamp wat Ramaphosa probeer verswak en hom as president van die ANC wil verwyder, as voorsitter van die justisie- en korrektiewe dienste-komitee aangewys.

Ramaphosa se ondersteuners in die koukus het egter ’n stokkie daarvoor gesteek en Magwanishe in dié amp aangewys.

Die vorige komitee het verlede jaar reeds ’n versoek van die DA oorweeg om ’n ondersoek na Mkhwebane se bevoegdheid te doen, maar dis in Desember, kort voor die verdaging van die parlement, van die tafel gegee.

Die ANC-lede was toe ook verdeeld daaroor of ’n formele ondersoek gedoen moet word. Mkhwebane, wat voor die komitee verskyn het daaroor, het hulle oortuig dat haar appèl in die Reserwebank-saak eers afgehandel moet word.

Die EFF se enigste verteenwoordiger op die komitee, adv. Thilivhali Mulaudzi, was destyds ten gunste daarvan dat Mkhwebane verwyder word.

Deesdae is die EFF vurige ondersteuners van die OB.

“Die vergadering op 3 September is eintlik ’n hervatting van die vorige versoek van die DA verlede jaar dat haar bevoegdheid ondersoek word. Dis nooit afgehandel nie – net onbepaald uitgestel omdat die twee sake voor die howe was,” sê Magwanishe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.