Die omstrede adv. Nomgcoba Jiba en adv.Lawrence Mrwebi is nou amptelik as topdirekteure van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) uitgeskop.

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: Jeanné-Marie Versluis
Netwerk24Foto: Jeanné-Marie Versluis
Dit volg nadat LP’s Dinsdagmiddag ’n voorlopige verslag van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste – wat aanbeveel het dat Jiba nie as adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging, en Mrwebi nie as spesiale direkteur van openbare vervolging heraangestel moet word nie – eenparig in die Nasionale Vergadering aanvaar het.
Dit beteken LP’s stem saam dat pres. Cyril Ramaphosa reg was om die twee uit hul poste te verwyder.
Werner Horn, DA-LP, het Dinsdagmiddag gesê dié besluit “het vandag die boek toegemaak op hierdie skandelike hoofstuk in die geskiedenis van die nasionale vervolgingsgesag”.
“As die DA is ons van mening dat pres. Ramaphosa in die lig van die ernstige beweringe van wangedrag teen adv. Jiba en adv. Mrwebi in die uitvoering van hul pligte as senior direkteure van NVG, geen ander keuse gehad het as om ’n formele ondersoek te laat doen na hul geskiktheid en gepastheid vir hul poste nie.
“Die Mokgoro-ondersoek se verslag maak dit baie duidelik dat hulle nie net skuldig is aan ernstige wangedrag nie, maar boonop oneerlik was in die uitvoering van hul pligte.
“Die getuienis voor die kommissie het ’n verdoemende oordeel gefel oor hul albei en die president effektief gedwing om hulle uit hul poste te verwyder.”
Xola Nqola, ANC-LP, het namens die regerende party gesê Jiba en Mrwebi is deur Ramaphosa en die parlement regdeur die prosesse oor hul afdanking regverdig behandel.
Die getuienis voor die kommissie het ’n verdoemende oordeel gefel oor hul albei en die president effektief gedwing om hulle uit hul poste te verwyder.
Hy het ook gesê dat Jiba self aan die komitee geskryf het dat sy “om persoonlike redes” nie meer haar ou pos wil terughê nie.
“Nadat die portefeuljekomitee al die betoë en feite voor hom oorweeg het, ondersteun ons ter wille van ’n NVG wat behoorlik funksioneer en wat stabiel is, die verslag se aanbeveling dat albei die advokate nie heraangestel moet word nie.”
Vroeër is berig hoe die Mokgoro-ondersoek onder meer bevind het dat Jiba destyds by die NVG na oudpres. Jacob Zuma se belange omgesien het en hom en mense naby aan hom beskerm het. Sy en Mrwebi het ten nouste saamgewerk.