Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jiba wil nou nie meer haar NVG-pos terughê nie

Die omstrede adv. Nomgcobo Jiba wil weens “persoonlike redes” nie meer haar toppos as adjunkdirekteur van nasionale vervolging in die nasionale vervolgingsgesag (NVG) terughê nie.

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: Jean-Marie Versluis

Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, het Vrydag aangekondig dat Jiba haar Donderdag per brief ingelig het dat sy nie weer haar pos deur die parlement wil terughê nie.

“Sy dui in die brief aan dat die redes vir haar besluit persoonlik is. Adv. Jiba het haar waardering uitgespreek vir die wyse waarop die parlement haar aangeleentheid van die begin tot einde benader het,” sê Modise.

Volgens Modise sal die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste, sowel as die verkose komitee oor veiligheid en justisie, wat saam die Jiba-aangeleentheid gehanteer het, ná die afhandeling van hul werk daaroor aan die NV verslag doen.

“Hulle sal Jiba se brief ook in ag neem.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Jiba en adv. Lawrence Mrwebi, voormalige hoof van die gespesialiseerde handelseenheid in die NVG, afgedank nadat die Mokgoro-kommissie bevind het dat hulle onbevoeg vir hul poste is.

Die parlement moes daarna ’n proses begin om te bepaal of Ramaphosa se besluit geldig was om die twee af te dank omdat die parlement ingevolge die NVG-wet die reg het om te besluit of die twee in hul poste herstel moet word of nie.

Jiba het vroeër ook met ’n aansoek in die hooggeregshof in Kaapstad probeer om die parlement te verbied om voort te gaan met sy proses teen haar. Dit is egter met koste van die hand gewys.

Die parlement het haar na dié hofgeding “een finale geleentheid” gegun om vertoë aan LP’s te rig oor waarom sy in haar pos moes aanbly. Mrwebi het reeds daaraan voldoen.

LP’s het Jiba sewe kalenderdae tyd gegee om dit te doen. Die sperdatum daarvoor was Donderdag – op dieselfde dag as wat sy die brief aan Modise gestuur het.

Sy dui in die brief aan dat die redes vir haar besluit persoonlik is.

Vroeër is berig hoe genl.maj. Johan Booysen, voormalige Valke-hoof in KwaZulu-Natal, in Mei vanjaar voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig hoe Jiba heimlik vir Zuma en Richard Mdluli, voormalige misdaadintelligensiehoof, destyds in die NVG opgetree het.

Booysen het ook getuig hoe Jiba die afgelope dekade die middelpunt van omstredenheid by die NVG was en hoe sy na bewering “groepe gekortwiek het om die strafregtelike klagte teen Zuma weer in te stel deur die uitreiking van die sogenaamde spioenasiesbande te vertraag”.

Intussen het Jiba se regspan onlangs voor die Zondo-kommissie aansoek gedoen om Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, te kruisondervra nadat hy haar in sy getuienis voor die kommissie ook by beweringe van staatskaping geïmpliseer het.

Meer oor:  Nvg  |  Thandi Modise  |  Adv. Nomgcobo Jiba  |  Toppos  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.