Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jiba wil NVG verbied om haar ou pos te vul

Adv. Nomgcobo Jiba wil ook die nasionale vervolgingsgesag (NVG) verbied om die senior pos waaruit pres. Cyril Ramaphosa haar vroeër vanjaar afgedank het, te vul.

Dit is in dieselfde dringende interdikaansoek waarin sy Woensdag die parlement wou verhoed om voort te gaan met die proses om te bepaal of Ramaphosa se besluit om haar en adv. Lawrence Mrwebi in April vanjaar af te dank, geldig was of nie.

Jiba en die parlement se regspan het egter Woensdag ’n ooreenkoms in regter John Hlophe, Wes-Kaapse regterpresident, se kantoor bereik om dié dringende interdikaansoek tot 19 September uit te stel.

Adv. Nomgcobo JibaFoto: Jeanne-Marié Versluis

Dit beteken die parlementêre proses om oor haar en Mrwebi se lot te besluit, word tot dan vertraag.

Zola Majavu, Jiba se prokureur, het Woensdag gesê sy kliënt is “gelukkig” met die uitstel en dat dit ’n “verstandige benadering” is om die parlementêre proses uit te stel.

Volgens hom wil Jiba met die dringende interdikaansoek ook met volle voordele terug in haar ou pos heraangestel word, terwyl sy ook daarin sal vra dat die NVG verbied word om haar ou pos met iemand anders te vul.

Dit is alles hangende die hersieningsaansoek waarin sy Ramaphosa se besluit om haar op grond van die Mokgoro-kommissie se aanbevelings af te dank, te laat hersien en tersyde te laat stel. Sy wil in dieselfde hersieningsaansoek ook die Mokgoro-kommissie se bevindinge tersyde laat stel.

Ramaphosa is in dié hofaansoek die eerste respondent, die nasionale direkteur van openbare vervolging (adv. Shamila Batohi) die tweede respondent en die Mokgoro-kommissie die derde.

“Woensdag se dringende interdikaansoek was net om die parlement te verbied om voort te gaan met sy proses.

“Die speaker (van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise) het egter ingestem om nie voort te gaan met die parlementêre proses totdat die dringende aansoek nie afgehandel is nie. Dit word op 19 September aangehoor.”

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het bevestig dat Modise en die betrokke partye ooreengekom het op ’n konsepbevel wat die parlementêre proses opskort tot dan.

Volgens hom is die ooreenkoms gemotiveer deur die parlement se strewe om regverdigheid, onpartydigheid en die oppergesag van die reg in die aangeleentheid te handhaaf.

Intussen het adv. Lawrence Mrwebi, voormalige hoof van die NVG se gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, Dinsdag gesê dat die parlement ook die besluit oor sy lot tot ná Jiba se dringende hofaansoek moet uitstel.

Jiba se terugkeer na die NVG kan egter Ramaphosa en Batohi se planne om die NVG reg te ruk – nadat dit in oudpres. Jacob Zuma se twee termyne byna verlam is – in die wiele ry.

Genl.maj. Johan Booysen, voormalige Valke-hoof in KwaZulu-Natal, het in Mei vanjaar voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig hoe Jiba heimlik vir Zuma en Richard Mdluli, voormalige misdaadintelligensiehoof, opgetree het.

Booysen het ook getuig hoe Jiba die afgelope dekade die middelpunt van omstredenheid by die NVG was en hoe sy na bewering “groepe gekortwiek het om die strafregtelike klagte teen Zuma weer in te stel deur die uitreiking van die sogenaamde spioenasiesbande te vertraag.”

Intussen het Jiba se regspan onlangs ook voor die Zondo-kommissie aansoek gedoen om Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, te kruisondervra nadat hy haar in sy getuienis voor die kommissie ook by bewerings van staatskaping geïmpliseer het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.