Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Joemat-Pettersson wil niks van JP Smith se ‘gekla’ weet

Die parlementêre portefeuljekomitee vir die polisie was Vrydag die herrie in vir die Kaapse metroraad omdat dié meen die parlement pik op hom oor sy hantering van uitsettings en grondbesettings in die metro.

Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die portefeuljekomitee, het JP Smith, die Kaapse metroraad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, uitgetrap omdat hy gedurende sy voorlegging gesê het Kaapstad is die enigste metro in die land wat voor die komitee moes verskyn, hoewel al die metro’s dieselfde probleme ondervind.

Die parlementêre komitee het die voorval bespreek waar ’n inwoner van Empolweni in Khayelitsha in Julie glo poedelnaak uit sy struktuur gesit is deur wetstoepassers van die metro.

Die metro het beweer dat die voorval georkestreer is.

Smith het gesê grondbesetting en betogings hou nie net vir Kaapstad ’n groot bedreiging in nie, maar ook vir ander metro’s.

“Al die metro’s sukkel met grondgrype, maar dit blyk dat die Kaapse metro die enigste raad is wat ingeroep word. Die metro is bewus daarvan dat hy gevra is om niks minder nie as ses keer voor minstens vier portefeuljekomitees te verskyn, terwyl ons merk dat geen ANC-beheerde munisipaliteit op hierdie manier behandel is nie,” het Smith gesê.

Joemat-Pettersson was duidelik ontsteld oor dié aantyging: “Moet asseblief nie weer u mening gee oor u standpunte en oor wat die nasionale komitee moet doen nie. Dit is nie ’n slagveld nie. Moenie weer die vergadering ontwrig deur u mening te gee nie.

“Dit is die laaste keer dat ek wil hoor dat Kaapstad uitgesonder word,” het sy gesê.

Volgens haar is Kaapstad nog nooit uitgesonder nie en verskyn hy voor die komitee omdat die komitee reeds voor die koronaviruspandemie oorsigwerk in die metro gedoen het.

“Ons het nog nie die geleentheid gehad om ander provinsies te besoek nie weens die pandemie. Ons het ons oorsigwerk hier begin en dis hier waar daar bekommernisse na vore gekom het,” het Joemat-Pettersson gesê.

Al die metro’s sukkel met grondgrype, maar dit blyk dat die Kaapse metro die enigste raad is wat ingeroep word. Die metro is bewus daarvan dat hy gevra is om niks minder nie as ses keer voor minstens vier portefeuljekomitees te verskyn, terwyl ons merk dat geen ANC-beheerde munisipaliteit op hierdie manier behandel is nie.

Sy het ook gesê die komitee word voortdurend ingelig oor probleme in die verhouding tussen die metro en die polisie.

Chris Nissen, Wes-Kaapse kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK), het gesê toe wetstoepassers die man poedelnaak uit die hut trek, is sy menseregte geskend. Nissen sê uitsettings moet wettig en volgens ’n regsproses geskied.

“Ons vra altyd dat die polisie en metropolisie nie die gemeenskap soos vyande behandel nie. Daar is mense wat betoog omdat hulle geldige redes het. Praat eers met die mense.”

Hy sê die manier hoe owerhede inwoners nader en selfs hul taalgebruik, laat veel te wense oor.

“Daar is ook ’n groot verskil tussen afbreek en sloop.”

Hy het gesê die owerhede moet eers dien en beskerm.

Volgens die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het hy geen magte om wetstoepassers van die metro te ondersoek nie. Thabo Leholo, hoof van Opod in die provinsie, het aan die portefeuljekomitee gesê hulle is bewus van die voorval in Khayelitsha, maar munisipale wetstoepassers val nie onder hul mandaat nie.

Bheki Cele, nasionale polisieminister, het gesê daar is ’n lang lys kwessies wat hulle wil bespreek oor die verhouding tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die metropolisie en wetstoepassers van die metro.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.