Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: Joernalis in pekel oor hy Malema glo p-woord noem

“Jou ma se Malema.”

’n Suid-Afrikaanse Twitter-gebruiker meen dít is die polities korrekte manier waarop Suid-Afrikaners van nou af die p-woord moet gebruik.

Dit kom nadat Barry Bateman, senior joernalis van Eye Witness News (EWN), die EFF-leier, Julius Malema, glo Dinsdag die p-woord genoem het.

Hy het dit agter Malema se rug, en half onder sy asem gesê, maar dit is op kamera vasgevang in ’n uitsending van Newzroom Afrika. Kykers was gou om die video op sosiale media te deel.

Dié voorval was Woensdagoggend die grootste besprekingspunt op Twitter in Suid-Afrika, en mense het hul skok uitgespreek dat dié omstrede Afrikaanse vloekwoord so op sosiale media rondgegooi word.

Van die mense steun Bateman en meen hy het gesê wat baie ander Suid-Afrikaners dink. Daar was ook ’n hewige debat oor of Bateman ’n rassis is.

‘n Twitter-gebruiker wat teen Barry Bateman uitgevaar het. Foto: Twitter-skermgreep
Bateman is ook as ’n rassis uitgekryt. Foto: Twitter-skermgreep
Iemand wat vir Bateman in die bresse getree het. Foto: Twitter-skermgreep
Baie het die draak gesteek met wat gebeur het. Foto: Twitter-skermgreep

EWN het in ’n verklaring verskoning gevra.

“Barry Bateman is Dinsdag ná ’n impromptu-nuuskonferensie van Malema buite die Valke se kantoor op kamera gevang toe hy in ’n gesprek met ’n kollega afbrekende woorde gebruik het.

“EWN vereis van ons verslaggewers dieselfde hoë standaarde as wat ons van ander verwag,” lui ’n verklaring.

Bateman is dadelik verbied om uit te saai en die voorval sal intern ondersoek word.

Die EFF het in ’n verklaring gesê EWN moet Bateman skors.

“Ons waarsku al lank dat joernaliste verantwoordelik is vir die giftige omgewing waarin die EFF in die algemeen met die media moet werk.

“’n Mens moet eenvoudig net dink aan wat kon gebeur het as die EFF op die toneel op Bateman se openlike provokasie sou gereageer het. Dit is duidelik dat baie die EFF sou beskuldig van onverdraagsaamheid teenoor die media en dat hy mediavryheid onderdruk,” het Mbuyiseni Ndlozi,  EFF-woordvoerder, in ’n verklaring gesê.

Wat gebeur het

* News24 berig Bateman het buite die Valke se kantoor saam met ander joernaliste met Malema gepraat voordat die EFF-leier ’n waarskuwingsverklaring sou aflê. Die saak hou verband met skote wat hy glo op ’n saamtrek in Oos-Londen afgevuur het.

Hy het beweer dat die klagtes teen hom polities gemotiveerd is en het die Valke uitgedaag om die regte besluite te neem indien hulle hom aankla.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê die aanklagte sal volgende week afgehandel wees.

Malema is ook betrokke by aanklagte van ernstige aanranding in ’n onverwante saak nadat video-opnames getoon het dat hy en Mbuyiseni Ndlozi, ’n EFF-woordvoerder, op die begrafnis van Winnie Madikizela-Mandela by ’n onderonsie betrokke was.

Julius Malema, EFF-leier, praat Dinsdag buite die Valke se hoofkantoor in Pretoria met die media. Foto: Sarel van der Walt
Netwerk24 Foto: Sarel van der Walt

Malema het in reaksie gesê hy sal nooit ’n wit man verskoning vra wat hom toegang tot Madikizela-Mandela se graf weier nie.

“Toe ek uit die kar klim, het ek in die hoop dat hy my sal herken, vir hom gevra: ‘Chief, wat maak jy nou?’ Hy het gesê: ‘Nee, jy gaan nie hier in nie.’ ’n Groot, wit, Afrikanerman wat my daarvan weerhou om Winnie Mandela te begrawe. Ek moes langs die kis wees en geen wit man sou my stop nie. As ek daarvoor moet tronk toe gaan, is dit reg so. Niemand sou my daarvan weerhou om Winnie Mandela te begrawe nie, dit sou nie gebeur nie,” het hy gesê.

In die gesprek voor die Valke se hoofkantoor het Bateman Malema gevra of hy die man aangeval het.

Malema het Bateman reguit aangekyk en gesê: “As dit ’n aanval was, vat dit. Dit is. Vat dit. Vir Winnie sal ek alles doen. Ek het toe sy nog geleef het en ek sal dit selfs nou doen.”

Bateman wou weet of die opname van Malema wat die man aanval, inderdaad korrek is. Malema het geantwoord: “Ek wens ek het, ek wens ek het hom aangeval. Noudat dit ’n regte kwessie is, wens ek dat ek die regte ding gedoen het, behóórlik. Ek is spyt ek het nie. Sodat ek hier met regte dinge te doen het. Ek, ek is nie bang nie, Boet, uniform of geen uniform. Afrikaner of geen Afrikaner. Wit of pienk, ek sal beslissend met jou handel.”

Terwyl Malema van die joernaliste weggestap het, het Bateman glo die vloekwoord gebruik.

Meer oor:  Julius Malema  |  Barry Bateman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.