Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jong kind kry eie huis in Jagersfontein, sê LUR

Die Vrystaatse departement van menslike nedersettings is nie ’n “geldwas-skema” wat die mense in die steek laat deur nie huise aan hulle te lewer nie, sê Motshidisi Koloi, Vrystaatse LUR van openbare werke, infrastruktuur en menslike nedersettings.

Sy het Vrydag in die begrotingsdebat oor menslike nedersettings gesê haar departement “het tot vir ’n agtjarige kind wat aan die hoof van ’n huishouding staan en wat jare geduldig gewag het, ’n huis in Jagersfontein gegee”.

Tsidiso Koloi, LUR vir openbare werke, infrastruktuur en menslike nedersettings in die Vrystaat.Foto: Marietjie Gericke

Hulle gaan ook so gou as moontlik alle onvoltooide huise en skole in die provinsie voltooi. En nog huise sal gebou word.

Sy het gereageer nadat Leona Kleynhans van die DA vroeër in die debat na haar departement as ’n “geldwas-skema” verwys het.

Koloi het gesê sy kan nie langer luister na aantygings teen Ace Magashule, voormalige premier, en oor praatjies oor tenders en kontrakte wat hy glo aan familielede en vriende gegee het nie. Die aantygings is nooit in ’n hof getoets nie.

Kleynhans het gesê informele nedersettings sonder enige dienste word in die hele provinsie gesien. Die departement sê die agterstand in huise is 60 000, terwyl Koloi gesê het dit staan nou op 148 000.

“Dan neem ons daagliks kennis van die miljoene wat na politici, kaders en vriende van die ANC gekanaliseer word.”

Kleynhans sê ook luidens hofdokumente was Magashule onder Operasie Hlasela in 2010 persoonlik betrokke by die aanstelling van kontrakteurs teen ’n koste van R1 miljard.

“Minstens R500 miljoen van die geld het verdwyn. Daar moes 15 000 huise gebou word, maar uiteindelik staan daar 11 000 onvoltooide huise oor die provinsie heen versprei.”

Sy meen die departement het geen idee hoe om dié huise te voltooi nie.

“Daarom is 52 van die onvoltooide projekte aan VNA Consulting toegeken vir voltooiing, maar die wetlikheid van die aanstelling, en van hul aksies met die huur en beëindiging van reeds aangestelde kontrakteurs, is twyfelagtig.

“Ons meen dié aksies is ’n groot bydraer tot die eise van R63 miljoen teen die departement.”

Dévar Smit van die VF-Plus het gesê die Vrystaatse departement van menslike nedersettings “vat die koek” as dit kom by departemente in ’n ongemaklike posisie.

“Hy het in die vorige geldjaar miljoene rande se onreëlmatige uitgawes aangegaan, hoofsaaklik weens die nievoldoening aan bestuursvereistes vir voorkeur-aankope.”

Smit het ook gesê die swak gehalte van bouwerk aan huise regoor die provinsie lei tot enorme finansiële verliese.

“Kontrakte word op korrupte wyse toegeken aan familielede en vriende, wat nie aan vereistes voldoen nie.”

Smit het gesê ’n voorbeeld hiervan is Vogelfontein naby Bethlehem.

Koloi het gesê die probleem is dat informele nedersettings al hoe groter word omdat boere plaaswerkers van plase afsit. “Ons mense ly steeds op ons plase.”

Sy het ook gesê in Steynsrus het wit mense water, maar daar is nie ’n pypleiding om vir die swart mense van die townships water te gee nie.

“Ons sal sorg dat almal dieselfde infrastruktuur kry.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.