Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gwede: ‘Julle behandel my soos ’n kind’

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het raadslede van die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (Necsa) Dinsdag gewaarsku om hom nie soos ’n “klein seuntjie” te behandel nie.

Gwede Mantashe

Woensdag het dit geblyk dat die oorblywende raadslede met onmiddellike ingang bedank het.

Necsa het Mantashe op die vergadering Dinsdag om ’n reddingsboei gevra om salarisse en bedryfskoste einde Januarie te betaal. Volgens teenwoordiges het hy geweier.

“Ndimi inyani (ek is die waarheid), ndimi indlela (ek is die weg),” het Mantashe glo pas ná die vergadering gesê – die woorde wat Jesus Christus volgens die Johannes-evangelie in die Bybel gebruik het.

Rapport se susterskoerant City Press het ’n opname van die vergadering bekom.

Daarin sê Mantashe hy weet daar is pogings deur die raadslede om pres. Cyril Ramaphosa aan hul kant te kry, maar hy is hulle een tree vooruit, want “gelukkig is die president ten volle ingelig van wat gebeur”.

Hy het voorts gesê: “As mense jou behandel asof jy net ’n klein seuntjie is, dan gaan jy jou verset met alles wat jy het.

“Dis hoe jul sogenaamde raad se verhouding met my is. Hulle dink ek’s net ’n klein seuntjie wat nie weet wat hy doen nie.”

Die vier oorblywende raadslede – Pulane Kingston, Matlhodi Ngwenya, Pulane Molokwane en Bishen Singh – sê in hul gesamentlike bedankingsbrief Mantashe het hul werk ondermyn en geïgnoreer.

Dis ondanks hul pogings om te keer dat die organisasie ten gronde gaan. Die brief verwys na Mantashe se openbare uitsprake dat Necsa “geen raad” het nie.

Julle dink omdat julle my voor ’n ultimatum stel, gaan ek rondhardloop. Julle kry dit nie by Gwede nie. Gwede werk nie so nie. Hy werk nie so nie.

In die opname sê Mantashe dis omdat net “drie” lede oor is en die raad dus nie ’n kworum het nie. Hy wys uit dat die vierde lid, Ngwenya, aangedui het sy gaan bedank, al het sy nooit ’n formele bedanking ingedien nie.

“Wat ons doen, is om ’n nuwe raad by Necsa saam te stel.

“Die onderneming was dat die drie oorblywende lede ingesluit sal word, maar die gedrag sê nie vir my ek moet daardie belofte gestand doen nie. Julle het drie lede wat gereeld met senior advokate en regslui vergader en maak asof dit ’n raad is. Wanneer ’n staatsinstelling ’n konfronterende houding teenoor die verantwoordelike minister inneem, verklaar daardie staatsinstelling oorlog teen homself,” het Mantashe gesê.

Volgens hom vra Necsa “vir baie goed en dit weerspieël nie erns nie”. “Julle gedra julle asof julle dink dis net ’n kontantkoei om te melk. Dit kan nie geduld word nie. Dis ’n instelling verantwoordelik vir kernkrag in die land.

“Julle het geen geld nie, maar julle betaal die SC om in jul raadsvergadering te sit. Na my mening is dit roekeloos . . . want julle voel geregtig op die departement se geld om julle te onderhou. Ek gaan vandag vir julle niks gee nie, want julle behandel my asof julle my voor ’n ultimatum stel.

“En julle dink omdat julle my voor ’n ultimatum stel, gaan ek rondhardloop. Julle kry dit nie by Gwede nie. Gwede werk nie so nie. Hy werk nie so nie.”

Necsa het Mantashe al in 18 November in briewe om “dringende goedkeuring” gevra om afgebakende geld en ’n kontantinspuiting vir salarisse en bedryfskoste van 1 Desember 2019 tot 31 Maart 2020 te gebruik omdat sy kontanttekort teen einde Oktober ’n geraamde R271 miljoen beloop het.

Verlede week het die raad dit weer in ’n brief gevra.

Een van die redes is: “Necsa se vaste onkoste is meer as wat hy uit staatstoelae ontvang.”

Terwyl sy onkoste toegeneem het, het sy staatstoelae gekrimp, nes die inkomste van sy kommersiële filiale, NTP Radioisotopes en Pelchem, sedert 2017.

Die raad het gesê hy het verskeie voorstelle aan die minister en die departement gemaak oor hoe om sy geldprobleme te takel, maar nie geld of goedkeuring vir sy regrukplan gekry nie.

“Die raad is nie by magte om vir Necsa se likwidasie aansoek te doen of sy bedrywighede te staak nie.

“Hy is daarom magteloos om te keer dat Necsa verder roekeloos sake doen en die verantwoordelikheid hiervoor rus vierkant op die minister se skouers.”

Meer oor:  Gwede Mantashe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.