Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Júlle dompel die ANC in ’n krisis’ – Zuma
’n Videogreep van pres. Jacob Zuma tydens sy onderhoud met Woensdagmiddag in Pretoria.

’n Uitdagende pres. Jacob Zuma het Woensdag gewaarsku sy herroeping as staatshoof sal die ANC in ’n krisis dompel.

Zuma het in ’n onderhoud met die SAUK by sy ampswoning in Pretoria gesê dit is iets “waaroor ek seker is my kamerade, my leiers, spyt sal wees, omdat sommige mense nie daarvan sal hou nie en kan voel dat iets verkeerd is”.

Moenie jul gesag toepas op ’n wyse wat uiteindelik probleme vir die organisasie sal skep nie.

Zuma, wat gesê het hy sal Woensdagaand ’n verklaring oor die situasie uitreik, maar dit laataand nog nie gedoen het nie, het gewaarsku as die ANC-leiers nie versigtig is nie, kan dit groter probleme skep as met die herroeping van oudpres. Thabo Mbeki.

Zuma was tien jaar gelede die hoofargitek in Mbeki se herroeping.

“Moenie jul gesag toepas op ’n manier wat uiteindelik probleme vir die organisasie sal skep nie,” het Zuma gewaarsku.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa, wat in Desember die leisels by Zuma oorgeneem het as ANC-president, sal moontlik teen Vrydag die nuwe staatshoof wees.

Die ANC hoop om Zuma Donderdagmiddag met ’n mosie van wantroue in die nasionale vergadering (NV) te ontsetel.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa vroeër vanjaar in Davos, Switserland Foto: bloomberg | getty images

Ramaphosa sal dan Vrydagoggend tot president verkies en ingehuldig word. Die plan is dat hy Vrydagaand om 19:00 die staatsrede lewer.

Paul Mashatile, die ANC se tesourier-generaal, en Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, het dié aankondigings Woensdag gedoen op ’n mediakonferensie in Kaapstad ná ’n spesiale ANC-koukusvergadering.

Die ANC het egter Woensdag deur die loop van die dag volgehou dat Zuma in die beste belang van die land sal optree en bedank.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het net ná Zuma se onderhoud aan die media gesê die party hanteer die saak “op ’n vreedsame manier”.

Hy het benadruk dat die president hom nie hardekwas hou nie en dat hy “oortuig” is dat Zuma teen Woensdagaand sou bedank.

Mabe het verduidelik die besluit om Zuma te herroep is nie onderhandelbaar nie.

As Zuma nie bedank nie en die mosie slaag, moet die hele kabinet bedank.

Baleka Mbete, speaker van die NV, sal dan as president waarneem tot ’n nuwe president (Ramaphosa) deur die parlement verkies is. As die mosie verwerp sou word, wat baie onwaarskynlik is omdat die ANC se koukus dit steun, bly Zuma president.

Talle joernaliste het Woensdag by die Uniegebou en die ingang na die presidensiële landgoed in Pretoria gewag op ’n moontlike mediakonferensie, maar Zuma het net aan die SAUK as nasionale uitsaaier ’n onderhoud toegestaan.

Ek het nog nooit in my lewe die ANC-leierskap verontagsaam nie. Ek stem net nie saam met die organisasie nie.
Jacob Zuma

Zuma het dit in die onderhoud duidelik gemaak dat hy nie sal bedank nie omdat konkrete redes nooit aan hom verskaf is waarom hy dit moet doen nie.

Hy hou ook vol hy verontagsaam nie die ANC se besluit om hom te herroep nie, maar stem nie saam met die manier waarop die ANC-leiers hom wil verwyder nie.

Hy meen hy word “geviktimiseer” deur adj.pres. Cyril Ramaphosa en die res van die ANC se topleiers omdat dit volgens hom nie ANC-beleid is dat die president van die land moet bedank om plek te maak vir die nuwe ANC-president nie.

Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering.

Hy het gesê hy wil ANC-lede inlig oor hoe die proses tot dusver verloop het, omdat “ek uitgebeeld word as die persoon wat die leierskap verontagsaam”.

“Ek het nog nooit in my lewe die ANC-leierskap verontagsaam nie. Ek stem net nie saam met die organisasie nie.”

Niemand het hom ingelig dat hy iets verkeerd gedoen het nie. “Ek moet oortuig word. Ek het in al die vergaderings gevra wat die redes is.”

Hy dink die ANC-leiers is onregverdig.

Mthembu het gesê die parlement en die land kan nie langer in ’n staat van onsekerheid gehou word nie.

Die wantrouemosie teen Zuma wat in die NV bespreek sal word, is die een wat die EFF vroeër ter tafel gelê het. Die ANC sal egter wysigings daaraan voorstel.

Daar sal met ’n oop stemming oor die mosie besluit word.

As Zuma intussen bedank, word Ramaphosa outomaties die nuwe president en hoef die kabinet nie te ontbind nie.

Mashatile het gesê in die ANC se gesprekke met Zuma het hy nie gevra dat sy regskoste betaal word óf vir amnestie nie. “As die ANC hanteer ons nie daardie kwessies van amnestie nie. Dit is grondwetlike en regskwessies. Daar is geen sulke besprekings nie.” – Llewellyn Prince, Philda Essop, Selloane Khalane, Sarel van der Walt

Meer oor:  Paul Mashatile  |  Jackson Mthembu  |  Jacob Zuma  |  Anc  |  Zuma-Herroeping  |  Krisis  |  Anc-Leierskap  |  Presidentskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.