Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Justin in trane toe hy SA paspoort terugkry

Toe hy sy paspoort vir die eerste keer in maande weer in sy hande hou, het hy in trane uitgebars, sê Justin van Pletzen.

Dié Suid-Afrikaner is in Dubai in hegtenis geneem omdat hy Ajay Gupta verfilm het terwyl Gupta in Suid-Afrika gesoek is.

Justin van Pletzen. Foto: Verskaf

“Ek het vir 20 minute in my kar gesit en huil,” het hy Donderdag gesê.

As alles goed gaan, sal Van Pletzen Vrydagoggend huis toe vlieg nadat hy agt maande in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) gestrand was.

“Ek is so gelukkig, ek het die hele jaar nog nie so breed geglimlag nie. Ek was ook nog nooit so bly om my paspoort te sien nie. Dit was die moeilikste jaar van my lewe en ek is amper daardeur.”

Van Pletzen het vir die Gulf Marketing Group Dubai gewerk en het ná Kersfees 2017 soos gewoonlik na die VAE teruggekeer om sy verantwoordelikhede as Nike se kliënteverhoudingsbestuurdervoort te sit.

Hy sou weer in Julie in Suid-Afrika kom kuier het vir sy dogter se verjaarsdag en sy skoolreünie totdat daardie een “oggendsigaretjie” in April sy hele lewe verander het.

Van Pletzen en twee van sy kollegas het oorkant die Indiese konsulaat gestaan en rook, toe Ajay Gupta en sy lyfwag by hulle verbystap.

Hulle het ’n video van hom geneem – iets wat in Suid-Afrika toelaatbaar is. Hulle sou egter kort daarna besef dis nié die geval in die VAE nie.

Gupta, wat deur die Valke vir beweerde korrupsie gesoek word, is kort voor die verfilming tot ’n voortvlugtige verklaar.

Die video is wyd op sosiale media versprei.

Kyk na die video hier: 

Van Pletzen en sy kollegas is in hegtenis geneem en skuldig bevind aan die skending van Gupta se privaatheid.

Hulle was skaars in aanhouding, toe Gulf News ’n berig publiseer wat buitelanders oor sosiale media in die VAE waarsku.

Luidens dié berig kan jy volgens wetgewing vervolg word vir die deel van “inligting, nuus, verklarings of bewerings” wat die reputasie van die staat of enige van sy instellings skade kan berokken.

Volgens Van Pletzen sal sy suster en ’n paar vriende hom op die Kaapstad Internasionale Lughawe inwag.

Die wetgewing maak ook voorsiening vir fopnuus, en, “selfs al is die inligting wat aanlyn geplaas word korrek, kan die persoon wat dit gedeel het steeds aanspreeklik gehou word indien die plasing iemand anders se privaatheid skend,” het Michael Barney Almazar, ’n prokureur, aan Gulf News gesê.

Ná ’n uitgerekte hofstryd is Van Pletzen en sy kollegas op 16 Julie beboet en sou hulle na hul land van herkoms gedeporteer word.

Die drie mans het teen die vonnis geappelleer omdat deportasie sou beteken dat hulle nooit weer in die VAE sou kon werk nie. Die deportasiebevel is teruggetrek en elkeen moes ’n boete van DH10 000 (sowat R38 000) betaal.

Hulle is tydens die hofstryd toegelaat om in Dubai aan te hou werk, maar is nie toegelaat om die land te verlaat nie.

Van Pletzen, wat 13 jaar ondervinding in die verkoopsbedryf het, is in November afgedank.

“Ek kort dringend werk. Ek is platsak,” het hy Donderdag gesê.

“Ek wil nou net weer my kinders sien. Dalk ’n bietjie weggaan en gehaltetyd saam met hulle deurbring. Dis al wat ek wil hê.”

Volgens Van Pletzen sal sy suster en ’n paar vriende hom op die Kaapstad Internasionale Lughawe inwag.

Meer oor:  Justin Van Pletzen  |  Dubai  |  Paspoort  |  Verfilm  |  Gupta-Video  |  Inhegtenisname
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.