Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Justisie soek regrukplan en oudit oor vaardighede

Die departement van justisie, wat daarvoor verantwoordelik is om korrupsie te beveg, het senior bestuurders gelas om ’n regrukplan op te stel omdat die departement glo op die rand van ineenstorting dobber.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het die aankondiging oor die omkeerplan Vrydag op ’n sitting van die ooreenstemmende parlementêre portefeuljekomitee gedoen.

Netwerk24 het vroeër berig verskeie LP’s het op ’n sitting van dié komitee in Oktober beweer die departement van justisie is op die punt van ineenstorting.

Gevaarligte het geflikker toe ’n jaarverslag van die departement gewys het dat hy slegs 51% van sy eie diensleweringsteikens kon behaal, dat hy sy begroting met R758 miljoen onderbestee het, en dat hy onreëlmatige besteding van R1,2 miljard aangeteken het.

Die departement is onder meer verantwoordelik vir die howe, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Zondo-kommissie.

Ons gaan elke rand en sent wat ons in die stelsel kry gebruik om in die NVG te belê, nie net om vertroue in die oppergesag van die reg te herstel nie, maar om geld te verhaal wat deur korrupsie verloor is.

Lamola het Vrydag gesê hoë vlakke van onstabiliteit in die leierskap, ’n gebrek aan gevolge vir werknemers, poste wat nie gevul is nie, min beslissende optrede en ’n gebrek aan ’n departementele kultuur het tot die benarde stand van sake bygedra.

Om aandag te gee aan die komitee en die ouditeur-generaal se kommer, sal die departement ook dringende stappe doen deur onder meer ’n vaardigheidsoudit op senior bestuurders uit te voer.

“Dit is kritiek dat die stappe onverwyld toegepas word,” het Lamola gesê.

Voorts het hy gesê die taak om die NVG weer op te bou gaan voort en dat die departement geld soek om die proses aan te help.

“Ons gaan elke rand en sent wat ons in die stelsel kry gebruik om in die NVG te belê, nie net om vertroue in die oppergesag van die reg te herstel nie, maar om geld te verhaal wat deur korrupsie verloor is.”

Werner Horn, DA-LP, het gesê dat die minister daarin slaag om swakpunte te identifiseer, maar dat dieselfde kwessies verlede jaar belig is en steeds nie opgelos is nie.

Hy sê dit kan nie geïgnoreer word dat alle objektiewe kriteria daarop dui dat min van die ondernemings oor gevolgebestuur oor die afgelope 12 maande gerealiseer het nie. “Ons soek besonderhede oor hoekom dit nie gebeur het nie,” het hy gesê.

Glynnis Breytenbach, DA-LP, het op die sitting gesê die departement raak ’n verleentheid en dat sy diep bekommerd is dat pogings om die situasie reg te ruk, al jare lank misluk.

“Nou die dag het ek om 10:30 verby die Meesterskantoor in Kaapstad gery en die ry was twee straatblokke lank. Teen die pas waarteen hulle ingelaat is, is daar geen manier dat die mense aan die agterkant van die ry ingelaat sou word nie.”

Sy het gesê hoewel Lamola ’n moeilike en groot taak het, soek die komitee nie meer verskonings nie, maar tasbare verbeterings.

“Jy is ’n nuwe minister, maar jy is nou al ’n ruk daar en ons wil sien dat jy ’n impak het. Die stand van sake kan toegeskryf word aan ’n gebrek aan leierskap en jy sal dit moet verskaf.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.