
Die DA-leier, Mmusi Maimane, sit tweede van regs saam met, van links, Nomafrench Mbombo, die DA se leier van sy vrouenetwerk (DAWN)‚ Nqaba Bhanga, die DA se leier in die Oos-Kaap, en Athol Trollip, voormalige burgemeester van Nelson Mandelabaai, met die DA-leier se besoek aan Port Elizabeth om die party se One Team SA-veldtog bekend te stel. Foto: Lizeka Tandwa
Die DA sê dat sy uitdaging van die heraanstelling van Malusi Gigaba en Bathabile Dlamini in pres. Cyril Ramaphosa se kabinet, nie enige implikasies inhou vir die president se prerogatief om ministers aan te stel of te verwyder nie.
Dit was Dinsdag die mening van Mmusi Maimane, DA-leier, op sy besoek aan Port Elizabeth om die plaaslike been van die party se One Team South Africa-veldtog daar bekend te stel.
Maimane sê dit is die howe se taak om tussen prerogatief en rasionaliteit te onderskei.
“Jy kan nie misdadigers aanstel as die hof teen dié betrokke minister bevind het nie. Dit is ons argument.
“Wat prerogatief betref, het Ramaphosa sy prerogatief uitgevoer.”
Maimane sê Ramaphosa het gewys dat hy sy prerogatief uitvoer toe hy Nomvula Mokonyane as minister van kommunikasie aangestel het nadat sy die departement van water en sanitasie met ’n hoop skuld agtergelaat het.
“Ons plaas haar (Mokonyane) nie in die hofproses nie, hoewel ons glo dat sy nie geskik is vir haar pos nie.
Jy kan nie misdadigers aanstel as die hof teen dié betrokke minister bevind het nie. Dit is ons argument.
“Daar is baie ander in die ANC wat voor die Zondo-kommissie van ondersoek (na staatskaping) gaan verskyn, en glo my, julle sal die verrotting in die kabinet sien,” het hy bygevoeg.
Die DA het Maandag hofstukke by die hooggeregshof in Pretoria ingedien waarin die party aanvoer die heraanstelling van die twee ministers is onwettig, ongrondwetlik en ongeldig.
James Selfe, hoof van die DA se federale raad, argumenteer dat Ramaphosa se versuim om teen Dlamini en Gigaba op te tree, neerkom op die versuim om die waardes wat in die Grondwet verskans is, gestand te doen.
Daar is vroeër in die hof bevind dat Gigaba onder eed gelieg het in die hofgeding tussen die Oppenheimer-familie se maatskappy Fireblade Aviation en die departement van binnelandse sake in die hooggeregshof in Pretoria in Desember verlede jaar.
Op haar beurt is Dlamini deur die konstitusionele hof beveel om 20% van die regskoste te dra wat spruit uit die hofgeding oor die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa). Die hof het bevind dat Dlamini doelbewus probeer het om die hof te mislei oor die ondersoek na haar rol in die probleme by Sassa.
Dlamini sowel as Gigaba het Ramaphosa se kabinetskommeling vroeër vanjaar oorleef.