Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jy luister as Cyril vra, sê De Lille
Hoofregter Mogoeng Mogoeng beëdig Patricia de Lille as Suid-Afrika se nuwe minister van openbare werke en infrastruktuur. Foto: Argief

As die president jou vra om diens aan die land te lewer – veral iemand so inspirerend soos pres. Cyril Ramaphosa – dan luister jy.

Só het Patricia de Lille, nuwe minister van openbare werke en infrastruktuur, Donderdagaand gesê enkele ure nadat sy deur hoofregter Mogoeng Mogoeng as minister van openbare werke en infrastruktuur in Ramaphosa se kabinet beëdig is.

Ramaphosa het Woensdagaand onverwags aangekondig dat hy De Lille in sy nuwe kabinet van 28 ministers en 34 adjunkministers ingesluit het.

De Lille, leier van die Good-party, was tot kort voor die aankondiging onbewus van Ramaphosa se planne.

“Hy het my gistermiddag (Woensdagmiddag) rondom 14:30 gebel en gevra dat ek dadelik Pretoria toe moes kom. Hy het gesê hy wil met my gesels – ek het my tas gepak en was op pad. As die president van die land vir jou vra om diens te lewer, veral ’n president wat so inspirerend is, luister jy.”

Sy was teen 18:00 in Gauteng en teen 19:30 het haar beurt aangebreek om met Ramaphosa te praat.

“Daar was ’n hele ry mense – hy het gesprekke met vorige ministers én nuwe ministers gevoer. Hy het vir my gesê hy wil my graag deel maak van die uitvoerende gesag.

“Ek het vir hom gesê dat ek vir meer as 40 jaar vir geregtigheid baklei het; ek het ook vir ruimtelike geregtigheid geveg . . . ons het oor die Nasionale Ontwikkelingsplan gepraat.

As jy in die opposisie is, vra jy wat gaan jy vandag sê, maar as jy in regering is, vra jy wat gaan jy vandag doen.

“Ek ken die plan en die wetgewing, ek was deel van die presidensiële infrastruktuur-koördineringskomitee. Ek het toe ja gesê – ek sal die pos aanvaar. En soos met alles wat ek aanpak, sal ek my beste voet voorsit,” het De Lille gesê.

Woensdagaand, nadat alles verby was, kon sy omtrent nie ’n oog toemaak nie.

“Jy weet, toe hy begin praat het, het ek besef hoe groot die taak is. My prestasierekord is daar. Ek het al op alle regeringsvlakke gewerk. As jy in die opposisie is, vra jy wat gaan jy vandag sê, maar as jy in regering is, vra jy wat gaan jy vandag doen.”

Op kritiek van Peter Marais van die VF-Plus, dat sy die kiesers van Good uitverkoop het deur die amp te aanvaar, het De Lille gesê: “Elkeen van ons is geregtig op ons opinie, al is dit ’n verkeerde opinie.”

Sy het daarop gewys dat Ramaphosa kort nadat hy verlede week deur die Nasionale Vergadering tot president verkies is, na alle partye uitgereik het en ’n beroep op samewerking gedoen het.

Oor of sy enige probleem daarmee sal hê om met verteenwoordigers van die DA – haar vorige politieke tuiste – saam te werk, het De Lille gesê “ek het geen probleem daarmee nie”.

“Helen Zille (vorige premier van die Wes-Kaap) het my gelukgewens. Ek het nie ’n probleem om met enigiemand saam te werk nie. Armoede en geen toegang tot grond en dienste ken geen politieke affiliasie nie.”

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.