Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kaapse premier vra weermag moet langer bly

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het die president en die minister van verdediging gevra om die weermag se ontplooiing op die Kaapse Vlakte met ses maande te verleng, mits sekere tekortkominge met die oorspronklike plan aandag kry.

Luidens ’n verklaring van Winde se kantoor het hy Dinsdag ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa en Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, geskryf waarin hy die versoek aan hulle gestel het.

Weermaglede wat die polisie bystaan in die probleemgebiede op die Kaapse Vlakte. Foto: Jaco Marais

Luidens die verklaring sê Winde dat die ontplooiing van die weermag ’n positiewe invloed gehad het op Operasie Lockdown, veral met die bystand wat hulle aan die polisie en ander wetstoepassingseenhede gegee het.

“Ons het egter nie veel van ’n afname in gewelddadige misdaad gesien nie. Daar is geen twyfel dat die polisie nie die hulpbronne het om dit alleen te doen nie,” sê Winde.

Hy het versoek dat weermag se ontplooiing met minstens ses maande verleng word totdat stabiliteit in die probleemgebiede bewerkstellig is.

Hy het saam met die versoek verskeie vereistes gestel wat volgens hom tekortkominge is met die eerste drie maande se ontplooiing.

Dit sluit in:

* Duidelike aanwysers om die invloed van die weermag se teenwoordigheid te meet;

* Die provinsiale regering moet ’n gekombineerde strategiese plan daarstel waaraan alle wetstoepassers moet voldoen;

* Gekoördineerde optrede deur die plaaslike, provinsiale en nasionale regering;

* Dat die misdaad ontleed word en spesifieke riglyne daargestel word om dit te bekamp; en

* Misdadige en gewelddadige groepe moet ’n duidelike boodskap van die owerhede ontvang dat hulle dopgehou word en dat daar op enige misdadige en gewelddadige gedrag reageer sal word.

Winde het ook onderneem om ’n spesiale “veiligheidskabinet” saam te stel wat ’n plan vir die volgende ses maande sal optrek.

Hy voer aan dat die plaaslike regering nie in die aanvanklike beplanning van die weermag se ontplooiing betrokke was nie.

“Daar is geen beplanning en beleid met ons bespreek nie en daarom weet ons nie of die afgelope drie maande ’n sukses was of nie,” lui die verklaring.

Volgens hom word daar net sekere inligting oor Operasie Lockdown met die plaaslike regering gedeel.

Hy het Ramaphosa en die minister van polisie, Bheki Cele, gevra om die volgende inligting te bekend te maak:

* Die getal gevalle van ernstige misdaad wat tydens hierdie tydperk gepleeg is;

* Die operasies wat uitgevoer is;

* Die getal geteikende inhegtenisnemings wat gemaak is;

* Die getal vuurwapens en ammunisie waarop daar beslag gelê is;

* Die getal “hoëprofielpersone” wat in hegtenis geneem is;

* Die vordering met die inhegtenisnemings en vervolging in die sake; en

* Inligting oor intelligensiegedrewe operasies wat uitgevoer word.

Winde sê daar moet besef word dat dit wat gedoen word, ’n meetbare uitkoms het.

Meer wetstoepassers is in gebiede soos Bonteheuwel ontplooi, wat volgens Winde ’n onmiddellike uitwerking op die gebied se misdaad- en moordsyfer gehad het.

Hy sê sy mikpunt is om die oorsaak van die misdaad in die probleemgebiede uit te roei.

Siphiwe Dlamini, kommunikasiehoof van die weermag, het bevestig Mapisa-Nqakula het Dinsdag op ’n vergadering van die ministers van die veiligheidsgroepering gesê sy het Winde se brief ontvang.

“Die huidige situasie moet eers ontleed word om te sien of die ontplooiing voortgesit sal word,” het Dlamini gesê.

“Net wanneer ’n brief van minister Cele ontvang word, sal die versoek oorweeg word en ’n besluit gemaak word.”

Meer oor:  Alan Winde  |  Kaapse Vlakte  |  Misdaad  |  Weermag-Ontplooiing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.