Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kaapse sakeman by ‘omkoopgeld vir kontrakte’ betrek

’n Skatryk sakeman van Kaapstad wat graag regeringskontrakte ingepalm het, het volgens getuienis voor die Zondo-kommissie op een slag R1 miljoen betaal wat hy geglo het na die ANC in KwaZulu-Natal gaan.

Die sakeman Gaston Savoi se onderneming, Intaka, het glo in 2006 ’n kontrak met die provinsiale regering in KwaZulu-Natal gesluit om tien watersuiweringseenhede teen aanvanklik R22 miljoen te verskaf.

Trevor White, ’n forensiese ouditeur van PricewaterhouseCoopers (PwC), getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie.Foto: Skermgreep

Dít is volgens die getuienis van Trevor White, ’n forensiese ouditeur van PricewaterhouseCoopers (PwC), wat die polisie met ondersoeke in KwaZulu-Natal bygestaan het.

White het Dinsdag voor die kommissie getuig dat dié bedrag eers verhoog is tot R44,5 miljoen en uiteindelik tot R50,1 miljoen. Geld wat in KwaZulu-Natal vir armoedeverligting gebruik moes word, is aangewend om die watersuiweringseenhede te koop.

Die destydse provinsiale tesourier van KwaZulu-Natal, Sipho Shabalala, het dit as só ’n dringende behoefte beskou dat die gewone pad van ’n tenderprosedure nie gevolg is nie. Dié uitgawe is as “’n buitengewoon kritiek noodsaaklike besteding” aangedui.

White het getuig al wat dringend aan die kontrak was, was dat die KwaZulu-Natalse regering die geld wou uitgee voor die einde van die 2009-boekjaar en nié omdat dit die welstand van mense sou verbeter nie.

Shabalala, wat Maandag voor White getuig het, probeer in ’n aansoek voor adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, om die getuienis te keer. Zondo het die aansoek afgekeur.

White het Shabalala se naam Dinsdag in sy getuienis genoem en gesê Shabalala het na bewering ’n skenking van R1 miljoen van Savoi gevra in dieselfde tyd toe die kontrak vir Intaka se watersuiweringseenhede goedgekeur is. ’n Lid van die ANC het eers in ’n beëdigde verklaring genoem dat Shabalala dié geld aan die ANC oorhandig het as ’n skenking van Savoi af, maar dat hy onder druk geplaas is om so ’n verklaring te doen.

Savoi het glo op sy beurt aangevoer dit is geld wat vir regskoste by sy prokureurs se trustrekening inbetaal is, maar dit is later op die boeke reggestel dat dit ’n skenking aan die ANC was.

“Indien dit slegs ’n skenking was, was dit nie nodig om dit weg te steek nie, maar dit is ’n betaling vir ’n R50,1 miljoen-kontrak wat hy gekry het,” het White getuig.

Volgens White is daar bewyse dat verskillende uitbetalings deur Savoi se prokureurs aan Shabalala gemaak is, onder meer vir die aankoop van werktuie vir sy plaas, asook ’n betaling van R300 000 aan sy vrou se onderneming.

White het getuig die polisie se ondersoekers het dit as geldwassery beskou.

Die hartseer van die kontrak is, volgens White, dat KwaZulu-Natal se regering die watersuiweringseenhede uiteindelik nie dringend in gebruik geneem het nie.

Boonop het die amptenare, wat gesê het dat die eenhede dringend nodig is, sulke slegte huiswerk gedoen dat een van die plekke waar ’n eenheid afgelewer moes word, volgens die geografiese koördinate wat daarvoor verskaf is, in die middel van ’n dam was.

’n Ander afleweringspunt was op ’n heuwel waar daar geen water was om te suiwer nie.

White getuig Woensdag verder.

Meer oor:  Anc  |  Kaapstad  |  Kwazulu-Natal  |  Omkoopgeld  |  Zondo-Kommissie  |  Sakeman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.