Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kabinet: Dié 4 trek die aandag

Terwyl kritiek en lof Donderdag in­gestroom het nadat pres. Cyril Ramaphosa sy nuwe kabinet Woensdagaand aangekondig het, is dit veral vier ministers wat wyd reaksie ontlok.

Ronald Lamola

Benewens die ekonomie, is die ander groot vraagstukke wat Ramaphosa moet hanteer die kwessie van grond en staatskaping.

Met sy (her)aanstelling van Tito Mboweni en Pravin Gor­dhan het Ramaphosa onmiddellik stabiliteit in die finansiële sektor bewerkstellig, terwyl hy in Ronald Lamola en Thoko Didiza twee koelkoppe het om die grondkwessie te bestuur.

Ekonome het die aanstelling van Mboweni as minister van finansies en Gordhan as minister van openbare ondernemings verwelkom en die rand het ná twee dae se swak vertoning goed herstel ná Ramaphosa se aankondiging.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, sê Mboweni en Gor­dhan se aanstellings is belangrik in ag genome die grootste fiskale krisis wat behartig moet word: om te verseker dat Eskom finansieel gestabiliseer word.

“Nie een word wel as ’n langtermynaanstelling beskou nie en sal na ons mening miskien 12 tot 18 maande in hul pos wees.”

Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika, sê Mboweni se heraanstelling is ’n “belangrike sein aan die mark dat die regering verbind is tot verantwoordelike ekonomiese en fiskale beleid”.

Mboweni sal hopelik ernstig aandag gee aan die herbouing van kapasiteit in die nasionale tesourie en die herstel van vertroue in openbare geldsake, sê Coovadia.

Tito Mboweni en Pravin Gordhan. Foto: Felix Dlangamandla

Gordhan is een van Ramaphosa se mees ervare kabinetslede. Hy was in Maart 2017 een van vyf ministers wat uit kritiek op oudpres. Jacob Zuma se verhouding met die Gupta-familie hul plek in die kabinet verloor het.

Coovadia sê Gordhan moet voortgaan om die “enkele grootste bedreiging vir die ekonomie – die finansiële en bedryfskrisis by Eskom” – te behartig.

Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, is op 36 die jongste lid van die kabinet en een van die opkomende sterre in die ANC.

Thoko Didiza

In sy nuwe pos gaan hy in beheer wees van Grondwet-wysigings (om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding), maar Lamola het al vroeër gesê hy dink dis onnodig om art. 25 van die Grondwet te wysig.

As minister van justisie en korrektiewe dienste gaan alle oë op Lamola se hantering van staatskaping en korrupsie wees.

Lamola, ’n kritikus van Zuma, was aan die voorpunt van die Occupy Luthuli House-betoging, wat daarop gemik was om Zuma uit sy amp te verwyder.

Die georganiseerde landbousektor het Didiza (53) se aanstelling as minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming verwelkom.

Sy was in Thabo Mbeki se kabinet die minister van landbou en in Nelson Mandela se kabinet die adjunkminister.

Annelize Crosby, Agri SA se hoof van grondsake, sê Didiza is sterk en bekwaam. “Sy is passievol oor landbou en grondhervorming. Agri SA het destyds ’n goeie verhouding met haar gehad.”

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die landbou-organisasie Saai, sê Didiza “weet wat die kloof tussen die regering se beleid en die uitvoering daarvan is.” 

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Thoko Didiza  |  Pravin Gordhan  |  Cyril Ramaphosa  |  Ronald Lamola  |  Pretoria  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.