Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kabinet gaan fyn trap van Cyril vereis

Die presidensie het Sondagaand bespiegelinge oor die aankondiging van die kabinet die nek ingeslaan deur in ’n verklaring te bevestig dat pres. Cyril Ramaphosa eers “later die week” sy span gaan aankondig.

Vroeër is bespiegel dat Ramaphosa sy kabinet reeds Sondag of andersins Maandag gaan aanwys.

In aanloop tot dié aankondiging is verskeie aanspraakmakers op kabinetsposte koorsagtig besig met pogings om hul name in ere te herstel.

Gwede Mantashe

Die ANC se integriteitskomitee, onder voorsitterskap van George Mashamba, het reeds voorleggings van David Mabuza, adjunkpresident van die party, en Gwede Mantashe, partyvoorsitter, ontvang. Mabuza was in die vorige kabinet adjunkpresident en Mantashe was minister van minerale bronne.

Die integriteitskomitee het in aanloop tot die verkiesing op 8 Mei dosyne ANC-leiers uitgewys wie se name op die party se verkiesingslys verskyn het terwyl hulle betrek is by bewerings van korrupsie.

Netwerk24 het ’n brief gesien wat Mabuza aan Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, gerig het om te vra dat sy beëdiging as parlementslid eers uitgestel word sodat hy sake met die integriteitskomitee kan uitklaar.

“Jy sal weet dat die media onlangs berig het dat die integriteitskomitee 22 mense, onder wie myself en kameraad Gwede Mantashe, uitgewys het as problematiese kandidate op die organisasie se lys van lede om in die Nasionale Vergadering te dien. As adjunkpresident van die ANC het ek besluit om eers te wag dat die integriteitskomitee sy werk finaliseer,” skryf Mabuza.

In ’n poging om sy reputasie te red en sy plek in die parlement te verseker, het Mabuza Vrydag voor die komitee verskyn en onskuldig gepleit.

Thami Ngwenya, Mabuza se woordvoerder, het Sondag bevestig dat Mabuza met die komitee vergader het. “Dit was sy eie inisiatief,” het Ngwenya gesê.

Mabuza is in die verlede by verskeie skandale betrek wat verband hou met sy termyn as premier van Mpumalanga. Dit sluit in bewerings van korrupsie en sluipmoorde.

David Mabuza Foto: City Press

Mabuza was Ramaphosa se geheime wapen in sy wedloop vir die ANC se leierskap in 2017. Mabuza se sterk steun in Mpumalanga het Ramaphosa in staat gestel om Nkosazana Dlamini-Zuma te verslaan in die verkiesing vir die pos van ANC-leier.

Mantashe het ook Sondag bevestig dat hy met die integriteitskomitee vergader het. Sy naam is genoem tydens Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, se getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Bosasa sou glo betaal vir die installering van veiligheidstelsels by Mantashe se huise. Vroeë aanduidings is dat die integriteitskomitee Mantashe se naam in ere sal herstel.

Dit is bekend dat Mantashe, ’n voormalige sekretaris-generaal van die ANC, ’n Ramaphosa-ondersteuner is.

Die integriteitskomitee sal na verwagting Vrydag sy verslag indien op ’n sitting van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK). Die NUK se vergadering sal gevolg word deur ’n lekgotla wat oor die naweek gehou gaan word om regeringsplanne te bespreek. Albei geleenthede sal by die St. George-hotel in Irene buite Pretoria gehou word.

Ander ANC-hooggeplaastes wat deur die integriteitskomitee uitgewys is, is Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale bronne. Zwane word betrek by staatskaping weens sy beweerde rol in die Gupta-beheerde maatskappy Tegeta se verkryging van die Optimum-steenkoolmyn van Glencore in 2017. Hy was ook LUR vir landbou in die tyd toe Magashule die premier van die Vrystaat was. Albei se name word genoem in die Estina-suiwelprojek waarin R200 miljoen wat vir opkomende boere bedoel was, bloot verdwyn het. Luidens die #GuptaLeaks is R30 miljoen daarvan gebruik om die Gupta-troue by Sun City te finansier.

Zwane het Sondag bevestig dat hy ’n brief gekry het om hom in kennis te stel dat hy voor die integriteitskomitee moet verskyn. Zwane is vroeër as parlementslid beëdig.

Nomvula Mokonyane en Malusi Gigaba, wat ook by bewerings van staatskaping betrek word, het albei onttrek as parlementslede.

Pravin Gordhan

Intussen is Pravin Gordhan, wat ook as parlementslid beëdig is, in ’n stryd gewikkel om bevindings van Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer (OB), teen hom om te keer.

Mkhwebane het Gordhan Vrydag skuldig bevind aan ongrondwetlike en onwettige gedrag in sy goedkeuring destyds van Ivan Pillay, voormalige adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, se pensioen.

Gordhan het Vrydag reeds te kenne gegee dat hy Mkhwebane se bevinding in die hof gaan beveg.

Prof. Bheki Mngomezulu, verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland se departement politieke wetenskap, het Sondag gesê Ramaphosa staan voor ’n dilemma. Aan die een kant moet hy ’n onkreukbare kabinet aanstel, maar terselfdertyd kan hy nie diegene isoleer wat hom ondersteun het in sy wedloop tot die presidentskap nie.

Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder, het gesê as die integriteitskomitee nie besluit om Mantashe en Mabuza se name in ere te herstel nie, kan dit Ramaphosa binne die ANC se topses-leierskap isoleer. Dit kan hom kwesbaar maak vir interne aanvalle.

Ramaphosa sal na verwagting – soos hy vroeër onderneem het – ’n kleiner kabinet aanstel. Die kabinet het oor die jare gegroei, van 50 lede onder oudpres. Thabo Mbeki, tot 70 onder oudpres. Jacob Zuma. - Bonolo Selebano met bykomende verslaggewing van Tshidi Madia en Lizeka Tandwa van News24. 

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Gwede Mantashe  |  David Mabuza  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.