Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kabinet ‘het Kriek-hulle se verslag onder oë gehad’

Die kabinet het die aanvullende verslag van Dan Kriek, vorige president van Agri SA, en die boer en sakeman Nick Serfontein, wat lede van die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou was, onder oë gehad.

Thoko Didiza (regs), minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Donderdag op ’n mediakonferensie in Pretoria. Langs Didiza is haar regsadviseur, Ivan Ka-Mbonane. Foto: Sarel van der Walt

Die kabinet het hul verslag nie aanvaar óf verwerp nie.

Dit is volgens Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, omdat Kriek en Serfontein se verslag handel oor onteiening sonder vergoeding en dié kwessie nog deel is van ’n omvattende parlementêre proses.

Serfontein en Kriek het dit in hul verslag duidelik gemaak hulle is gekant teen onteiening sonder vergoeding.

Hul standpunt is dat daar geen tegniese of wetlike rede is om die Grondwet te verander nie.

Die twee boere het met baie van die ander voorstelle in die adviespaneel se verslag saamgestem.

Didiza het Donderdagoggend op ’n mediakonferensie in Pretoria bekend gemaak watter van die voorstelle van die presidensiële adviespaneel nie deur die kabinet aanvaar is nie.

Die adviespaneel se verslag is verlede Vrydag op die laaste kabinetsvergadering van die jaar bespreek.

Die paneel, onder die voorsitterskap van dr. Vuyokazi Mahlati, se verslag is op 24 Julie aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig.

Staatsdepartemente wat by grondhervorming betrokke is, is toe gevra om dit te bestudeer, voorstelle te doen en aan te dui hoe hulle die voorstelle sal hanteer.

Hierna het die interministeriële komitee oor grondhervorming en landbou die voorstelle gekoördineer voordat dit aan die kabinet voorgelê is.

Dit help baie dat iemand van buite die stelsel na grondhervorming gekyk en voorstelle gemaak het oor hoe ons dit kan verbeter.

Didiza sê die rede waarom van die voorstelle nie deur die kabinet aanvaar is nie, is omdat van die voorstelle reeds deur die regering toegepas is. In ander gevalle is verdere ondersoek nodig.

“Die doel van die presidensiële advieskomitee se ondersoek was om ’n onafhanklike beoordeling van die regering se grondhervormingsproses te kry. Die paneel moes kyk na beleid, die wetgewende raamwerk, sowel as institusionele reëlings.

“Die voorstelle wat nie aanvaar is nie, is nie verwerp omdat dit nie belangrik is nie, maar omdat van die voorstelle verdere ondersoek vereis omdat dit met beleid en die wetgewende stelsel verband hou,” sê Didiza.

Die voorstelle wat aanvaar is, sal nou deur die onderskeie staatsdepartemente wat by grondhervorming betrokke is, in werking gestel word.

“Dit help baie dat iemand van buite die stelsel na grondhervorming gekyk en voorstelle gemaak het oor hoe ons dit kan verbeter.

“Dit sal die proses baie help en help met koördinering van die grondhervormingsproses. Dit is nodig om reg te stel wat in die verlede skeefgeloop het,” sê Didiza.

Dié voorstelle is nie aanvaar nie

Die voorstelle wat nie deur die kabinet aanvaar is nie, en die redes daarvoor is kortliks:

* Grondhervorming moet deel wees van ’n ooreengekome visie oor landbouhervorming:

Die kabinet meen die huidige witskrif oor grondbeleid van 1997 is voldoende.

Betekenisvolle maatreëls is nodig om stedelike staatsgrond te ontsluit vir die oprigting van bekostigbare huisvesting en die skep van meer inklusiewe dorpe en stede:

Die kabinet ondersteun dié voorstel in die breë, maar die uitdaging lê in sekere meganismes wat voorgestel word as ingrypings.

* Die funksie van die kantoor van die waardeerder-generaal moet hersien word om dit in pas te bring met die Wet op Eiendomswaardasies om seker te maak onteiening met die oog op grondhervorming is billik en regverdig en nie suiwer gegrond op markwaarde nie:

Die kabinet is van mening dat dit wel die geval is.

Die regering moet ’n saambindende grond-administrasiestelsel ontwikkel en ’n nuwe wit- en groenskrif uitgereik wat hoofstukke oor grond-administrasie sal insluit:

Die kabinet meen die huidige witskrif maak voorsiening daarvoor, maar waar moontlik sal die Wet op Titelregistrasie aangepas word om die aantekening van informele grondregte in die eertydse tuislande en kommunale gebiede in te sluit.

* Die verantwoordelikheid vir grondhervorming moet weggeneem word van die departemente van landbou en van grondhervorming en landelike ontwikkeling en onder die kantoor van die adjunkpresident val:

Die kabinet sê die departemente van landbou en van grondhervorming en landelike ontwikkeling is ná die algemene verkiesing vroeër vanjaar in een departement saamgevoeg.

* Daar moet ’n sentrale owerheid met duidelike magte en verantwoordelikhede wees wat staatsgrond proaktief bestuur:

Die kabinet se antwoord hierop is dat die interministeriële komitee oor grond en landbou, waarvan die adjunkpresident die voorsitter is, dit reeds doen.

* ’n Nasionale grondregtebeskermer moet in die lewe geroep word wat hoëvlak-konflik tussen veral die staat en burgers moet bestuur: 

Die kabinet sê hy glo die uitgebreide mandaat van die grondeisehof sal hiervoor voorsiening maak.

* ’n Spesiale grondhervormingsfonds moet gestig word:

Die kabinet meen dit moet eerder uit bestaande begrotings gefinansier word.

’n Grond- en landbouhervormingsagentskap moet in die lewe geroep word:

Die kabinet meen die samevoeging van die departemente van landbou en van grondhervorming en landelike ontwikkeling is voldoende.

* ’n Kommissie van ondersoek na grondbelasting moet ingestel word:

Die kabinet sê die departement van finansies het so ’n ondersoek gedoen (die King-kommissie), wat grondbelasting ingesluit het. Dit is geïnkorporeer in wetgewing oor eiendoms- en kapitaalwinsbelasting.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.