Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kabinet: Makliker om te sê wie’s uit

Met sowat tien dae voordat pres. Cyril Ramaphosa na verwagting sy nuwe kabinet gaan aanwys, word daar druk bespiegel daaroor.

Verskeie lyste oor hoe Ramaphosa se kabinet moontlik daar gaan uitsien, vlieg op sosialemediaplatforms rond. In een van die lyste word twee adjunkpresidente aangedui, terwyl ander slegs een naam bevat.

Sommige baie onwaarskynlike name verskyn langs sommige portefeuljes, terwyl gewilde senior ANC-leiers wat nie omstrede is nie en hoog op die ANC se kandidatelys is, se name onder die “kabinetslede” ontbreek.

Gugile Nkwinti Foto: Lulama Zenzile

Huidige ministers wat nie weer na die Nasionale Vergadering (NV) gaan terugkeer nie, sluit in Senzeni Zokwana (landbou, bosbou en visserye), Michael Masutha (justisie), Ebrahim Patel (ekonomiese ontwikkeling) wat te laag op die ANC se nasionale lys vir die parlement is.

Gugile Nkwinti, minister van water en sanitasie, Rob Davies, minister van handel en nywerheid, en Gert Oosthuizen, adjunkminister van sport, se name verskyn glad nie daarop nie.

Michael Masutha
Michael Masutha Foto: GCIS

Onder die adjunkministers wat nie gaan terugkeer nie, tel Andries Nel (samewerkende regering en tradisionele sake), Kebby Maphatsoe (verdediging), Godfrey Oliphant (minerale bronne), Hendrietta Bogopane-Zulu (maatskaplike ontwikkeling) en Bongani Mkongi (polisie), asook bekende voorsitters van parlementêre portefeuljekomitees waaronder Yunus Carrim (staande komitee oor finansies), Hlomane Chauke (binnelandse sake) en Francois Beukman (polisie).

Omstrede politieke leiers wat op pad terug is na die NV sluit in Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, Bathabile Dlamini, minister in die presidensie belas met vroue, en Malusi Gigaba, oudminister van binnelandse sake.

Lawson Naidoo, van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac), het aangedui dat dié organisasie nie enige van die kabinetsaanstellings in die kabinet in die hof sal uitdaag nie. Daar is volgens hom baie min regsgronde waarop so iets gedoen kan word. “Ons dink nie daar is ’n sterk regsgrondslag daarvoor nie. Daar is wel ’n sterk morele en etiese grondslag, ja.”

Naidoo het gesê “mense van integriteit” wat ’n duidelike verbintenis tot die Grondwet openbaar en die land eerste stel en nie hul eie belange nie, behoort kabinetslede te word.

Francis Antonie, direkteur van die Helen Suzman-stigting, het op ’n soortgelyke manier gereageer.

“Jou omstrede kan dalk my normaal wees. Beweringe teen sekere mense kom sterk op die voorgrond by die Zondo-kommissie en ander kommissies van ondersoek. Ek sê laat ons kyk wie word in watter portefeuljes aangestel, van waar ons die situasie sal benader.”

Twee aspekte moet volgens Antonie in gedagte gehou word – die beweringe teen individue en dat pres. Ramaphosa onder geweldige druk kan wees, veral van Luthuli-huis, juis omdat hy aangedui het die kabinet gaan verklein word.

Volgens Antonie behoort Ramaphosa nie “wilde drome” te hê oor die Nasionale Gesondheidsversekering nie en moet hy eerder daarop fokus om die openbare hospitale reg te ruk.

’n Groot kwessie is energievoorsiening en al die probleme waardeur Eskom in die gesig gestaar word.

“Eskom kan dalk die ysberg wees wat die Suid-Afrikaanse Titanic kan laat sink. Pravin Gordhan het die taak om oorsig te hou. Hy is ’n man van integriteit en ek het groot agting vir hom, maar hy is een man. My hoop is dat daar mans en vroue van sy kaliber sal wees om aandag te gee aan die verskriklike situasie. Ons hoop is nou dat Ramaphosa ’n regering kan hê wat die mense sal dien en nie uit klieks en familielede bestaan nie.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Ministers  |  Nuwe Ministers  |  Kabinet  |  Kabinetslede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.