Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kabinet sê jammer oor Sassa-chaos, kyk na BTW

Baie, baie jammer, dit sal nooit weer gebeur nie!

Nomvula Mokonyane, minister van kommunikasie, het mense wat geraak word deur die chaos met die uitbetaling van maatskaplike toelae, Donderdagoggend op ’n mediakonferensie in Pretoria namens die kabinet herhaaldelik om verskoning gevra.

Nomvula Mokonyane, minister van kommunikasie, Donderdagoggend op die mediakonferensie in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Woedende begunstigdes van maatskaplike toelae moes op verskeie plekke landwyd sonder geld teruggaan huis toe.

“Die kabinet bied sy opregte verskoning aan almal wat geraak is,” sê Mokonyane.

“Die kabinet is deeglik bewus daarvan dat die kwesbaarste mense in die gemeenskap afhanklik is van die toelae. Daarom is die ongerief wat nou daarmee gepaardgaan, betreurenswaardig.”

Die kabinetsvergadering van Woensdagoggend is op versoek van pres. Cyril Ramaphosa, wat nie die vergadering kon bywoon nie, gelei deur Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking.

Mokonyane sê die kabinet is volledig deur Susan Shabangu, minister van maatskaplike ontwikkeling, oor die situasie ingelig.

“Sy het aan die kabinet gesê probleme het ontstaan weens die oorskakeling van die ou stelsel (met Cash Paymaster Services) na die nuwe stelsel tussen Sassa self en die Poskantoor.

“Sy het die versekering gegee die meeste mense wat gesukkel het om hul geld te kry, het dit nou gekry.

“Sassa en die Poskantoor werk hard om die tegniese probleme uit te stryk,” sê Mokonyane.

“Ons vra nederig om verskoning aan almal wat hierdeur geraak is. Die kabinet hoop Sassa, die Poskantoor en alle ander betrokke partye sal seker maak so iets gebeur nie weer nie.”

Die kabinet besef ook dit was ’n “vernederende ervaring” vir diegene wat nie hul geld kon kry nie.

Dit kom nou uit dat daar aan van hulle gesê is hulle mag net ’n derde van hul geld kry.

“Dit is ’n verleentheid. Daar was vroeër ’n oefenlopie om die stelsel te toets. Die kabinet was baie krities daaroor, maar ons is verseker alles werk.

“Die kabinet hoop van harte dit (die chaos met die uitbetaling van toelae) is iets wat ons nie weer sal sien nie,” sê Mokonyane.

Sy sê dit is onaanvaarbaar dat sommige begunstigdes moes hoor hulle kon nie die volledige bedrag wat hulle toekom, onttrek nie.

“Dit kom nou uit dat daar aan van hulle gesê is hulle mag net ’n derde van hul geld kry.

“Die regering het genoeg geld opsy gesit sodat alle begunstigdes betaal kan word. Ons doen ’n beroep op mense wat sulke boodskappe kry, om dit by die noodnommer op Sassa se webtuiste aan te meld,” sê Mokonyane.

* Sy het ook aangekondig die nasionale tesourie het ’n paneel van nege deskundiges aangestel om die lys van goedere wat vrygestel is van belasting op toegevoegde waarde (BTW), te hersien.

Daar is 19 basiese voedselitems op die lys.

Die regering het kwaai onder kritiek deurgeloop toe hy BTW van 14% tot 15% verhoog het, omdat die armes die ergste hierdeur geraak word. Selfs die ANC het die regering daaroor gekritiseer.

Mokonyane sê die kabinet besef ook die styging in die brandstofprys tref veral die armes baie erg.

Meer oor:  Sassa  |  Btw  |  Nomvula Mokonyane  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.