Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kabinet vergader oor ‘ekonomie, stryd teen korrupsie’

Die kabinet het Woensdag begin met ’n twee dae lange lekgotla met die fokus op ekonomiese herstel ná die koronaviruspandemie, asook die stryd teen misdaad en korrupsie.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het die oggend bevestig dat die virtuele vergadering om 10:00 begin het om “in werking te stel wat die regerende party gesê het ons moet doen”, met verwysing na die pas afgelope lekgotla van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).

Mthembu het op ’n mediavergadering die verwoestende uitwerking van die pandemie op “ons lewe, die ekonomie, werkskepping en ondernemings” beklemtoon.

“Die regering moet nou met ’n plan kom om te herbou en te herstel van die verwoesting wat Covid-19 gesaai het. Natuurlik kan ons nie van herstel praat sonder om die pilare te noem waarop dit gebou word nie, soos infrastruktuur.”

Volgens Mthembu gaan die regering onder meer kyk na die uitbou van infrastruktuur van die staat en die private sektor en “massa-indiensneming”.

“Miljoene poste is verloor. Hoe gaan ons seker maak dat mense weer aangestel word? In die konteks van herbou moet ons ook kyk na hoe ons kan industrialiseer en lokaliseer.”

Mthembu het aangedui dat al die ministers en adjunkte, asook die premiers en verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regerings (Salga) die lekgotla bywoon.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag ná die ANC-NUK se lekgotla herbevestig dat die ekonomiese herstelplan ’n “infrastruktuur-geleide strategie” moet wees.

Dit moet beleggings in energie, water en sanitasie, vervoer, behuising, gesondheid, onderwys en digitale infrastruktuur insluit. 

Ramaphosa het gesê die ANC sal die werk van die regering lei deur met sy maatskaplike vennote saam te werk “om hoër vlakke van ekonomiese groei, beleggings en werkskepping te genereer”.

Ralph Mathekga, politieke ontleder, sê daar word te veel verwagtinge geplaas op sulke lekgotlas en dit is “voortdurend ’n teleurstelling”.

“Ons het ’n landwye staking en ’n ernstige geskil tussen ondernemings, vakbonde en die regering. Jy sou wou hê dat die ANC dit prioritiseer, maar hy is nie daartoe in staat nie. Met die onlangse lekgotla is weer gefaal om iets op te lewer en dit is nie die eerste keer nie.”

Mathekga sê mense wil ’n gevoel van dringendheid “oor die bloeiende ekonomie” sien, maar weens die faksiegevegte in die ANC is daar nie eenstemmigheid oor die kwessies wat saakmaak nie.

Die enigste instelling wat iets kan doen is die regering.

Een van dié kwessies is die staat se loonrekening, waaroor daar binne ure ’n ooreenkoms bereik kan word en nie ’n lekgotla van ’n paar dae vereis nie, volgens Mathekga.

“Nog ’n kwessie is ’n misdaad. In die konteks van ’n polisiekolonel wat doodgeskiet is, is dit meer as net ’n misdaad teen ’n individu, maar ’n aanval op die stelsel.”

Theo Venter, politieke kommentator en adviseur, sê die eenstemmigheid wat die ANC oor die naweek oor beleidsvoorstelle bereik het, gaan nou in die lekgotla omvorm word in belastingvoorstelle wat toegepas kan word.

Dit sal dan waarskynlik deel uitmaak van die mediumtermynbegrotingsraamwerk wat vandeesmaand gelewer sal word.

“Ons sal nou vir die eerste keer sien wat almal Maandag wou weet ná die ANC se lekgotla. Dit is alles goed en wel dat die ANC eenstemmigheid het hieroor, maar wat gaan die regering doen? Dit is waaroor dié lekgotla gaan.”

Venter verwag dat die publiek ná die lekgotla meer oor optrede teen korrupsie gaan hoor as deel van regeringsbeleid.

“Ek dink die regering kan ook die geleentheid gebruik om oor die hele kwessie van die frustrasie veral onder landbougeledere te praat, want dié ding is besig om af te stuur op ’n baie gepolariseerde samelewingskonflik wat ons nie kan bekostig nie. Die enigste instelling wat iets kan doen is die regering.”

Nog ’n vraag is of strafregtelike klagte teen senior ANC-lede soos Ace Magashule, die sekretaris-generaal, ingedien gaan word, sê Venter.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Ralph Mathekga  |  Jackson Mthembu  |  Staatskaping  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.