Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kabinetspos maak LP’s só ryker

Om as kabinetslid aangewys te word, beteken dat jy meer as twee maal die salaris van ’n gewone parlementslid gaan verdien, met ook beter byvoordele. Selfs ’n adjunkminister se salaris van sowat R2 miljoen jaarliks is dubbeld dié van ’n gewone LP.

Die ministers kan uitsien na ’n salaris van R2 401 633, terwyl ’n adjunk­minister R1 977 795 en ’n gewone LP R1 033 438 ontvang. Dit is benewens ander voordele soos gratis vliegkaartjies en gesubsidieerde luukse motors.

s
s

Die salarisse kon hoër wees indien pres. Cyril Ramaphosa nie verlede jaar die onafhanklike kommissie vir die vergoeding van openbare ampsbekleërs se aanbeveling van ’n 4%-verhoging afgeskiet het nie. Dieselfde verhoging vir homself en adj.pres. David Mabuza is ook verwerp.

Ramaphosa se salaris beloop tans R3,6 miljoen en Mabuza s’n is altesaam R2 825 470, dieselfde as Thandi Modise, die speaker.

Oudpres. Nelson Mandela het in 1995 ná sowat ’n jaar as president een derde van sy salaris (toe sowat R1 miljoen) aan die Nelson Mandela-stigting begin skenk.

Ramaphosa het verlede jaar in die parlement aangekondig dat die helfte van sy salaris geskenk word aan ’n fonds, geoormerk vir gemeenskapsprojekte, wat deur die Nelson Mandela-stigting bestuur sal word.

Die ministeriële handboek skryf voor dat kabinetslede geregtig is om 25% (sowat R600 000) van hul salaris aan ’n private voertuig te bestee.

Ministers sowel as hul adjunkte kan ook elk twee amptelike voertuie aanskaf vir gebruik in Kaapstad en Pretoria.

Die waarde van dié voertuie mag egter nie 70% van hul salaris oorskry nie. Dit kan vervang word sodra dit 120 000 km gereis het, of vyf jaar lank gebruik is.

Volgens Africa Check kan kabinetslede ook gratis in ’n staatswoning in die stad van hul keuse woon. Indien hulle vir ampsdoeleindes in ’n tweede staatswoning wil trek, is hulle verplig om markverwante huur te betaal.

Die staat betaal ook vir ’n huiswerker en opknappings.

Voorts mag kabinetslede en hul wederhelftes eersteklasvliegkaartjies vir amptelike internasionale reise aanskaf. Hulle is ook geregtig op 30 enkel besigheidsklaskaartjies per jaar binne Suid-Afrika.

Die voorsitters van komitees verdien ’n rapsie beter as ’n gewone LP, sowat R1,45 miljoen. Die leier van die opposisie kry R1,6 miljoen en die adjunkspeaker R1,97 miljoen.

Ondanks die feit dat LP’s net die helfte van kabinetslede verdien, val hulle onder die top-1%-verdieners in die land.

Volgens Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, kry elke LP 88 binnelandse reise per jaar. Dit kan wees per trein, bus of voertuig en vervoer van en na lughawens, asook parkering.

Hul afhanklikes word ook vervoer en hulle kry verhuisingskoste, selfone, tablette en draagbare rekenaars en verblyf in die parlementêre dorpe in Kaapstad.

Meer oor:  Salarisse  |  Kabinet  |  Parlementslede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.