Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kanonne reg om vir Cyril te bulder

Die kanonne sal Saterdag op Loftus Versfeld in Pretoria vir pres. Cyril Ramaphosa bulder.

Pres. Cyril Ramaphosa kom Vrydag op Loftus Versfeld in Pretoria aan vir ’n kleedrepetisie voordat hy Saterdag amptelik as president ingehuldig word. Foto: GSCI

Dit sal nie in die vorm van die 1812 ouverture van Tsjaikofski wees nie, maar ’n kanonsaluut van 21 skote.

Meer as 40 staatshoofde sal op die heiligdom van die Blou Bulle toekyk hoe Ramaphosa, die vyfde president sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994, amptelik as president en staatshoof ingehuldig word.

Baie van die staatshoofde het Vrydag in die land aangekom. Om veiligheidsredes sal daar eers Saterdagoggend bekend gemaak word wie hulle is.

Dit is wel bekend dat António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, pres. Abdel Fattah el-Sisi, die Egiptiese president en voorsitter van die Afrika-Unie (AU), die staatshoofde van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die voorsitters van die ekonomiese streeksorganisasies in Afrika die inhuldiging sal bywoon.

Baleka Mbete, vorige speaker van die nasionale vergadering, en Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, sal as gasvroue optree.

Sowat 42 000 mense word in die stadion verwag. Die inhuldiging word ook regstreeks op televisie uitgesaai.

Nadat die 66-jarige Ramaphosa kort ná 11:00 deur hoofregter Moegoeng Moegoeng in sy amp beëdig is, sal hy die volk toespreek.

Nadat hy Woensdag in die nasionale vergadering (NV) in die parlement in Kaapstad tot president verkies is, het Ramaphosa belowe hy sal ’n president vir álle Suid-Afrikaners – nie net vir die ANC en sy kiesers nie – wees.

Nadat die 66-jarige Ramaphosa kort ná 11:00 deur hoofregter Moegoeng Moegoeng in sy amp beëdig is, sal hy die volk toespreek.

Hy het ook verandering belowe. “Verandering is wat julle gaan sien. Die sesde administrasie gaan oor verandering wees. Ons mense hunker na verandering.”

Ná sy toespraak Saterdag sal daar ’n verbyvlug deur Gripen-vegvliegtuie, Oryx-helikopters en ’n C130-vragvliegtuig van die lugmag, sowel as vliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, wees.

Die kanonsaluut van 21 skote sal hierna volg en waarskynlik teen Meintjeskop in die noorde en Lukasrand in die suide weergalm.

Ramaphosa het Vrydagoggend ’n kleedrepetisie op Loftus bygewoon om hom te vergewis van wat van hom verwag word.

Baie streng veiligheidsmaatreëls geld in Pretoria. Die lugruim bo die stad is Saterdag tot omstreeks 16:00 beperk.

Meer as 2 500 polisie- en verkeersbeamptes is in die hoofstad en omgewing ontplooi.

Verskeie strate in die omgewing van Loftus Versfeld is sedert Vrydagmiddag gesluit en toegang word streng beheer.

Meer as 20 000 mense sal oornag met sowat 200 busse na Loftus gebring word.

Daar is ook plek vir 10 000 lede van die publiek, maar hulle moet eers Saterdag tussen 03:00 en 07:00 by die Afrikaanse Hoër Seunskool oorkant Loftus Versfeld geakkrediteer word voordat hulle in die stadion toegelaat sal word.

Gripen-vegvliegtuie van die lugmag vlieg Vrydag oor Loftus Versfeld ter voorbereiding van ’n verbyvlug na die inhuldiging van pres. Cyril Ramaphosa Saterdag in dié stadion. Foto: Deaan Vivier

Dié mense kan by die Tshwane Events Centre (skougronde) parkeer en sal dan ook met busse na Affies vervoer word. Niemand sonder akkreditasie sal toegelaat word om Loftus Versfeld binne te gaan nie.

’n Groot groep hooggeplaastes, wat ministers, premiers, parlementslede, burgemeesters en bekendes in die samelewing insluit, word ook verwag.

Hulle sal Saterdag om 03:00 vanaf Rietondalepark met busse na die stadion vervoer word.

Strate in die Rietondale-omgewing is ook gesluit. Inwoners het spesiale permitte van die Tshwane-metro ontvang om hier te ry.

Die verrigtinge sal ook op grootskerms in al nege provinsies uitgesaai word.

Die byeenkoms sal deur ’n musiekfees afgesluit word.

* Ramaphosa sal na verwagting Sondag sy nuwe kabinet aankondig.

Daar is groot belangstelling in hoe dié kabinet, wat waarskynlik aansienlik kleiner sal wees as die vorige, daarna gaan uitsien.

* Netwerk24 sal Saterdagoggend regstreeks vanaf Loftus Versfeld verslag doen.

Meer oor:  Loftus Versfeld  |  Cyril Ramaphosa  |  Pretoria  |  Inhuldiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.