Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kans vir militêre oorname in SA ‘byna nul’

Hulle weet nie of ’n sekere groep in die weermag planne teen pres. Cyril Ramaphosa se administrasie in die mou voer nie, maar die kans is in elk geval byna nul dat ’n militêre oorname sal slaag.

So meen kenners nadat dit aan die lig gekom het dat weermaglede genooi is na ’n obskure vergadering om “politieke kwessies” rakende die ANC te bespreek.

Hulle is glo genooi deur pamflette wat versprei is.

Genl. Solly Shoke, hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), het nadat hy van die beoogde vergadering bewus geword het, Dinsdag in ’n verklaring weermaglede gewaarsku om nie by partypolitieke kwessies betrokke te raak nie.

Niemand het volgens hom toestemming om die vergadering by te woon nie.

“Die SANW bly ’n organisasie wat verhewe bo die politiek is en die soewereine veiligheidsbelange van die republiek dien ingevolge die mandaat van die Grondwet,” lui die verklaring.

Simphiwe Dlamini, kommunikasiehoof van die SANW, het by navraag gesê hy het nie besonderhede oor wie die vergadering beplan het en wat die doel daarvan is nie.

Netwerk24 verneem in weermagkringe word daar bespiegel dat sekere voormalige veterane van uMkhonto we Sizwe (MK) die vergadering beplan het.

Carl Niehaus, woordvoerder van die MK-veteranevereniging, sê hy is nie bewus van enige vergadering wat sou plaasvind nie.

In 2018 is berig dat sommige soldate, grotendeels voormalige MK-lede wat lojaal was aan oudpres. Jacob Zuma, voor sy bedanking as president van die land in opstand gekom het.

Weermaglede is lojaal aan mag, en die mag is nou in die hande van Ramaphosa.

Prof. Susan Booysen, navorsingsdirekteur by die Mapungubwe-instituut, sê sy kan haar nie indink dat ’n ANC-faksie wat gekant is teen pres. Cyril Ramaphosa se administrasie ’n militêre oorname oorweeg nie.

“So ’n oorname sal besondere beplanning verg en in dié stadium glo ek nie die weermag kan eers die tuin voor die Uniegebou oorneem nie,” sê sy.

In ’n grondwetlike demokrasie soos Suid-Afrika sal ’n staatsgreep waarskynlik ook nie slaag nie omdat sy demokratiese instellings te sterk is.

Volgens haar het Zuma of Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wat albei as teenstanders van Ramaphosa beskou word, nie beduidende steun in die SANW nie.

“Weermaglede is lojaal aan mag, en die mag is nou in die hande van Ramaphosa,” sê sy.

Jakkie Cilliers, ’n weermagkenner van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê as ’n staatsgreep deur die weermag beplan sou word, sou mense nie via pamflette genooi word om daaroor te vergader nie.

Volgens hom het Zuma dalk slegs nog steun in die intelligensiedienste oor.

Helmoed-Römer Heitman, ’n militêre ontleder, sê die meeste weermaglede bly eintlik weg van die politiek en duld nie politieke inmenging nie.

Kobus Marais, DA-woordvoerder oor verdediging, het by navraag Shoke se standpunt verwelkom dat weermaglede nie by partypolitieke kwessies betrokke moet raak nie, maar benadruk dat die weermag dit konsekwent moet toepas.

Die weermag het die afgelope ruk onder kritiek deurgeloop omdat ’n ANC-afvaardiging onlangs met ’n lugmagvliegtuig na Harare toe is om met die Zanu-PF-party van Zimbabwe te vergader.

Magashule, wat die afvaardiging gelei het, het verlede week aangekondig dat die party vir die koste van die vlug gaan opdok.

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.