Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace teen toue, maar hy veg voort
Ace Magashule

Te midde van al die drama en die hoogspanning in die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC, lyk die kans op ’n moontlike skeuring in die regerende party skraal.

Só het die politieke ontleder Theo Venter Sondagaand gesê ná die tweede dag van dié belangwekkende NUK-vergadering.

“Ons is baie ver van die stigting van partye soos Cope en die EFF af, want die volgende verkiesing (die plaaslike verkiesing op 27 Oktober) is te naby om van die ANC weg te breek," het Venter gesê.

Praktiese politiek

“Dit sal nie in dié stadium praktiese politiek wees nie.

“Wat ek wel verwag, is intense faksie-verskille op die kort termyn, terwyl die komende hoofraadsvergadering baie gepolitiseer sal word.”

Oudpres. Thabo Mbeki het die ANC volgens ’n opname, wat uit die vergadering gelek het, gewaarsku die party moet hom gereed maak vir ’n moontlike afsplintering weens “onversoenbare ideologiese verskille”.

Dit was ná ’n opmerking van Tony Yengeni, ’n senior NUK-lid en ondersteuner van Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC.

Die vergadering het Saterdagoggend op dramatiese wyse begin toe Magashule toegang tot die vergadering geweier is.

Later is Bongani Bongo, ’n voormalige minister van staatsveiligheid, ook die trekpas gegee.

Waarnemers meen pres. Cyril Ramaphosa en sy faksie het hul houvas op die NUK versterk.

Prof. Dirk Kotze, ’n politieke kenner van Unisa, sê wat in die ANC gebeur het, is soos die gety van die see wat verander het.

ANC-vroueliga se reaksie

In nog ’n insiggewende stap het die ANC-vroueliga ’n beroep op Magashule gedoen om nie die reeds sukkelende ANC verdere skade te berokken nie.

Magashule het aan die vergadering gesê omdat hy appèl aangeteken het en dié proses nog nie afgehandel is nie, is hy by magte om as sekretaris-generaal aan die vergadering deel te neem.

Die algemene gevoel was dat die prosesse van hoe die appèlproses sal werk, nog bepaal moet word.

Die NUK het onlangs gelas enige ANC-ampsdraer wat strafregtelik aangekla word, moet binne 30 dae opsy staan totdat die hofsake teen hulle afgehandel is.

Bathabile Dlamini, president van die ANC-vroueliga, het gewaarsku die ANC is besig om homself te vernietig.

Magashule en sy ondersteuners hou vol die NUK het die besluit wat die ANC se nasionale konferensie in 2017 oor die opsystaan-kwessie geneem het, selektief toegepas om van hom ontslae te raak.

Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto we Sizwe-militêreveteranevereniging en groot bondgenoot van Magashule, het aan Dennis Delport gesê Magashule sal nie die hof onmiddellik nader oor sy skorsing nie.

“Ace sal eers die appèlproses afhandel voordat hy ’n besluit neem oor ’n moontlike hofsaak om sy skorsings te beveg,” het Niehaus gesê.

In nóg ’n uitgelekte opname, waaroor die ANC baie ongelukkig is, het Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC, Sondagoggend aan die NUK gesê ANC-ampsdraers wat deur die NUK beveel word om opsy te staan, mag die ANC nie in die openbaar of op enige ander manier verteenwoordig nie.

President van die ANC of 'n faksie?

Sulke lede mag ook in die openbaar geen aankondigings oor die ANC doen nie. Hulle mag ook nie betrokke wees by die mobiliseer van ANC-strukture nie.

Nadat verskeie Magashule-ondersteuners ernstige aantygings en organisatoriese kwessies geopper het, het Mbeki gesê dié kwessies is kommerwekkend. Hy het voorgestel Ramaphosa en die ANC-leierskap moet aandag gee aan die probleme wat uitgewys is.

Dakota Legoete, ’n NUK-lid wat hom voor die Nasrec-konferensie in die Ramaphosa-kamp bevind het, maar later nader aan die Magashule-kamp beweeg het, het Saterdag ’n beroep op Ramaphosa gedoen om “ ’n president vir die hele ANC en nie net ’n faksie” te wees nie.

Bathabile Dlamini, president van die ANC-vroueliga, het gewaarsku die ANC is besig om homself te vernietig.

Marietjie Gericke berig ’n betroubare bron sê ANC-takvergaderings is Saterdagaand in die Vrystaat gehou. Daar is besluit dat die takke wat Magashule ondersteun, saam druk gaan uitoefen dat die ANC-konferensie vervroeg word sodat nuwe leiers gekies kan word, eerder as om nou die hof te nader.

Altesaam 110 ANC-takke in hoofsaaklik KwaZulu-Natal het op hul beurt ook hul steun aan Magashule en oudpres. Jacob Zuma toegesê. Die ANC het landwyd meer as 3 800 takke.

Die NUK-vergadering word Maandag voorgesit.

Onder die bekende ANC-leiers wat geraak word deur die opsystaan-kwessie, is:

• Ace Magashule, sekretaris-generaal;

• Zandile Gumede, voormalige burgemeester van eThkwini (Durban);

• Mike Mabuyakhulu, adjunk-voorsitter van die ANC in KwaZulu-Natal;

• Kgotso Khumalo, burgemeester van die JB Marks-munisipaliteit (Potchefstroom);

• Wendy Nelson, ’n voormalige LUR in Limpopo;

• Mandla Nsibi, LUR vir landbou in Mpumalanga; en

• Daniel Msiza, provinsiale ANC-tesourier, Limpopo.

Die ANC in Gauteng en die Vrystaat (wat tans nie ’n provinsiale uitvoerende komitee het nie) het nog nie die name van ANC-lede in dié twee provinsies wat geraak word aan die ANC se hoofkantoor gestuur nie. Die ander meer as 60 lede landwyd wat geraak word, sluit in lede van provinsiale uitvoerende komitees, stadsraadslede en streekvoorsitters en -ondervoorsitters.

Bron: City Press

Meer oor:  Cyri Ramaphosa  |  Ace Magashule  |  Anc  |  Nuk  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.