Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Joernalis wat met dood gedreig is wen saak teen EFF

Die EFF sê hy gaan gehoor gee aan 'n hofbeslissing dat die party die verkiesingskode oortree het toe Julius Malema, EFF-leier, voor die verkiesing Karima Brown, politieke joernalis, se selfoonnommer op Twitter geplaas het.

Brown het daarna doodsdreigemente ontvang.

“Dit is ’n oorwinning teen die onderdrukking van die media, fascisme en vrouehaat. Dit is ook belangrik om te beklemtoon dat dit ’n uitspraak spesifiek teen die EFF en Julius Malema is,” het Brown aan Netwerk24 gesê.

Die hooggeregshof in Johannesburg het Donderdagoggend gelas die EFF moet die kostes van die saak betaal.

Uitspraak was voorbehou toe die saak op Maandag 6 Mei aangehoor is.

Die sage het hom in die hitte van die stryd voor die nasionale verkiesing op 8 Mei vanjaar afgespeel.

Soos News24 vroeër berig het, het die geveg tussen Brown en die EFF ontstaan nadat sy per ongeluk op 5 Maart vanjaar ’n redaksionele opdrag na die EFF se WhatsApp-mediagroep gestuur het, nadat die EFF 'n uitnodiging na sy "ontbyt vir bejaardes" op die groep uitgestuur het. 

Karima Brown
Karima Brown

Haar boodskap was: “Hou die volgende dop. Wie is die oueres (elders)? Is hulle net mans en hoe is hulle gekies? Hou fyn dop.”

Die boodskap is dadelik verwyder, maar nie voordat Malema ’n skermgreep daarvan geneem en met sy Twitter-aanhangers gedeel het nie.

Hy het Brown daarvan beskuldig dat sy ’n spioen na die ontbyt wou stuur.

Brown se selfoonnommer was sigbaar in die skermgreep.

Sy is gevolglik daarna deur vermeende EFF-lede geteister, geïntimideer en is selfs met die dood en verkragting gedreig.

Brown het toe ’n klag van intimidasie teen Malema aanhangig gemaak.

Die EFF het in die saak aangevoer dat Brown se kritiek teenoor dié party onregverdig is en dat sy onprofessioneel opgetree het.

Vuyani Ngalwana SC het namens die EFF in die hof aangevoer dat Brown daarop uit was om die EFF se registrasie ingetrek te kry, en dat dit doodnormaal was dat Malema sy kommer daaroor op Twitter uitgespreek het.

Ngalwana het verwys na voorvalle waarin Brown krities teenoor die EFF was.

Sy het onder meer in ’n rubriek in The Citizen gevra of ’n politieke party wat ’n vrou aanval, toegelaat moet word om aan die verkiesing deel te neem.

Ngalwana het verder beweer dat Brown op ’n WhatsApp-verkiesingskommissie-mediagroep gesê het dat sy die EFF wil laat skrap en het die party van rasse-aanhitsing beskuldig.

News24 het vroeër berig dat neerhalende aanmerkings teen Brown gemaak is nadat haar selfoonnommer uitgelap is.

Sy is glo onder meer vir ’n “Indiese hoer” en ’n “teef” uitgeskel.

Adv. Geoff Budlender, Brown se regsverteenwoordiger, het aangevoer dat Malema se optrede ’n oortreding van die verkiesingskode is en dat hy sy Twitter-aanhangers aangepor het om ’n joernalis te intimideer en te beledig. Hy het ook geen stappe gedoen om te verseker dat ’n joernalis ingevolge die verkiesingsreg nie geïntimideer of aan enige vorm van teistering deur politieke partye onderwerp word nie, het hy gesê.

Budlender het gelyk gegee dat Malema op 10 April op ’n mediakonferensie verskoning gevra het, maar hy het gesê dit is nie genoeg nie.

“Die verskoning is heeltemal te min en te laat. Brown was reeds aangeval en is ’n maand lank geïntimideer.

“Dit was eers ná al die skade en toe ’n hofsaak hulle in die gesig gestaar het dat hulle (die EFF) verkies het om hulle van dié optrede te distansieer.”

Meer oor:  Hofsaak  |  Eff  |  Karima Brown  |  Doodsdreigemente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.