Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Kastreer verkragters,’ sê Bathabile

Bathabile Dlamini, president van die ANC se vroueliga, wil hê verkragters moet swaarder gestraf word.

“Daar mag geen borgtog vir verkragting wees nie en daar moet geen parool vir verkragters wees nie. Daar moet chemiese kastrasie wees vir diegene wat aan verkragting skuldig bevind word,” het sy Sondag gesê.

Bathabile Dlamini, die president van die ANC se vroueliga en voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling. Foto: Argief

Sy het ANC-ondersteuners toegespreek by die party se 108ste bestaansjaarviering in Port Shepstone, aan die suidkus van KwaZulu-Natal.

Dlamini het ook ’n beroep op die regering gedoen om genderstudies in die onderwyskurrikulum in te sluit.

“Genderstudies moet in die kurrikulum ingesluit word. Regters, die polisie en prokureurs wat met vrouemishandelingskwessies werk, moet toegerus wees om sulke sake te hanteer,” sê sy.

Haar oproep kom ná nog ’n vlaag moorde, verkragtings en ontvoering van vroue en kinders.

Sy sê dat seuns op ’n jong ouderdom van kwessies geleer moet word wat vroue raak sodat hulle kan grootword om goeie mans te wees.

Dlamini sê die name van diegene wat aan verkragting skuldig bevind word – wat deur DNS-toetse skuldig bevind is – moet bekend gemaak word om vroue te beskerm teen toekomstige verhoudings met hulle.

Die ANC-regering moet volgens haar ook seker maak dat die ekonomie werk skep en vroue se ondernemings ondersteun.

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het benadruk die ANC se 108ste bestaansjaarviering “was nie ’n blote fees vir plesier” nie.

“Dit is hoog tyd om helde en heldinne te vereer, nie om te spog oor hoe ryk jy is nie. Op hierdie dag salueer ons MK-veterane wat geveg het vir swart mense om vry te wees in Suid-Afrika. Ons wil bevestig dat (oudpres. FW) De Klerk ons nie bevry het nie, maar dat vryheidsvegters dit gedoen het en die internasionale gemeenskap wat sanksies teen die apartheidsregering ingestel het om Suid-Afrikaners te bevry.”

Hy het die ANC se oproep om radikale ekonomiese transformasie herhaal.

“Die mense van Suid-Afrika sal ’n gelyke deel van die ekonomie hê. Ons is onapologeties oor radikale transformasie.”

Sommige ANC-ondersteuners het woedend geraak toe oud-pres. Jacob Zuma se seun Duduzane met ’n gevolg van lyfwagte by die venue opgedaag het.

Lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat die saamtrek bygewoon het, was Ace Magashule, sekretaris-generaal, Jackson Mthembu, minister in die presidensie, Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, en Nocawe Mafu, minister van sport, kuns en kultuur.

Meer oor:  Bathabile Dlamini  |  Sihle Zikalala  |  Port Shepstone  |  Gesinsgeweld  |  Verkragters  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.