Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NVG-baas los bom: Kenners deel kommer oor Valke

Kenners deel die kommer van adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, oor die Valke se vermoë om die beplanners en opstokers van verlede week se plundering en geweld vas te trek, sowel as die misdaadsindikate wat betrokke was.

Adv. Shamila Batohi, Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging. Foto: Ian Carbutt

Batohi het Woensdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gesê sy is bekommerd daaroor dat die Valke nie die vaardighede of mannekrag het om behoorlike ondersoeke na spesifiek “hoëvlak-oortreders” vinnig genoeg te kan doen nie.

Intussen het Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, bekend gemaak dat Bruce Nimmerhoudt, Sibusiso Mavuso, Clarence Tabane en Ngizwe Mchunu in verband met aanhitsing tot geweld in die howe verskyn het en nog in aanhouding is.

Op die vraag van ’n joernalis oor of sy dink ’n “leek” soos Mchunu kan vir die orkestrasie van die geweld verantwoordelik wees, het sy gesê sy kan nie oor die hofsake uitwei nie.

Batohi het die portefeuljekomitee gemaan dat dié soort ondersoeke deur faksiegevegte en ander gebreke in die wiele gery kan word.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sal met wetstoepassingsagentskappe saamwerk om oortreders in die grootskaalse plundering en geweld in Gauteng en KwaZulu-Natal aan te keer, het sy gesê.

“Die werklikheid is dat ons wetstoepassingsagentskappe se kapasiteit om ondersoeke te doen, gebrekkig is.

“Daar is ook die kwessie dat daar wetstoepassers is wat self die wet oortree het en ons hoop dat daar in ’n hoogs verpolitiseerde omgewing objektiewe besluite geneem sal word,” het Batohi gesê.

Kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, het navrae na die NVG en die polisie verwys.

Valke moet bewyse kan insamel

Gareth Newham, hoof van justisie en geweldsvoorkoming by die Instituut van Sekerheidstudies (ISS), sê Batohi weet meer as hy oor die Valke se vermoë.

“Sy is in die misdaadsvoorkoming- en veiligheidsgroepering en vergader regstreeks met die polisie en die Valke en behoort ’n goeie indruk te kry van sy kapasiteit.

“Die kwessie is ook dat die Valke bewyse moet kan saamstel wat in ’n hof tot ’n suksesvolle vervolging sal lei,” sê Newham.

Dr. Guy Lamb, ’n polisiekenner verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê dit is geboekstaaf dat die wetstoepassingsagentskappe in die jare van staatskaping in die termyn van oudpres. Jacob Zuma uitgehol is.

Die ondersoeke wat ter sprake is, behels onderhoude met ooggetuies, ondersoeke op sosiale media en die gebruik van geënkripteerde kommunikasie. Hierdie soort ondersoeke vereis spesiale vaardighede.

Hy stel voor dat die Valke eerder ’n paar sake prioritiseer en bewyse daar rondom bou sodat dit tot suksesvolle vervolgings in die howe kan lei.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het aan die LP’s gesê waar dit geregverdig kan word, sal sake van “gewone” plunderaars, of mense wat in die besit van gesteelde goedere is, dalk lei tot herstellende geregtigheid of ander maatreëls soos erkenning van skuld en pleitooreenkomste.

Adv. Rodney de Kock van die NVG het aan LP’s gesê die beginsel van gelykheid voor die reg sal geld en elke saak sal op sy eie grondslag beoordeel word.

Adv. Rodney de Kock van die NVG het aan LP’s gesê die beginsel van gelykheid voor die reg sal geld en elke saak sal op sy eie grondslag beoordeel word.

Dr. Jean Redpath, ’n strafregkenner van die Dullah Omar-instituut, sê hoewel dit beteken dat sommige plunderaars, afhangend van die meriete van die saak, tronkstraf sal vryspring, is so iets nie ongewoon in Suid-Afrika nie.

Sy sê omdat die tronke in Suid-Afrika oorvol is, is daar die afgelope dekade ’n toename in die gebruik van mediasie tussen slagoffers en oortreders as ’n alternatief.

“Mediasie sal dalk geskik wees vir iemand wat in die plundering babadoeke gesteel het, maar nie vir iemand met ’n Mercedes-Benz wat ’n televisie gesteel het nie.”

Op die vraag of sy dink die staat tree te sag op teen die gewone plunderaars, het Redpath gesê sy is eerder bekommerd dat wetstoepassers hulle as “sagte teikens” gaan ag, eerder as om die hoëvlak-misdadigers vas te trek.

“Dit is maklik om deur die townships te loop en om mense in hegtenis te neem wat ’n nuwe verfblik het. Dit is moeiliker om iemand vas te trek in formele huise wat die geweld aangehits en georkestreer het,” sê sy.

Luidens ’n voorlegging deur die NVG is meer as 800 sake in verband met die onluste by die howe ingedien, hoewel dit nie bekend is presies hoeveel oortreders aangekla is nie. Party van hulle is met ’n waarskuwing vrygelaat, ander is vrygelaat op borgtog en ander is steeds in aanhouding.

Meer oor:  Shamila Batohi  |  Kenners  |  Ondersoek-Vermoë  |  Valke  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.