Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kenners lou oor Cyril se korrupsie-komitee

Dit lyk vir haar na niks anders nie as net nóg duplisering van wat reeds gedoen word om korrupsie met die Covid-19-pandemie te takel.

Dr. Jo-Ansie van Wyk

Só het prof. Jo-Ansie van Wyk, ’n politieke ontleder en kenner op die gebied van die politiek van gesondheid en wat aan Unisa verbonde is, Donderdagaand gesê. Sy het gereageer op die aankondiging dat die kabinet ’n ministeriële komitee van ses lede aangestel het wat aandag sal gee aan bewerings oor korrupsie en oor wat daaraan gedoen moet word.

Die komiteelede is Roland Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, Jackson Mthembu, minister in die presidensie, Tito Mboweni, minister van finansies, Bheki Cele, minister van polisie, Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Lamola sal die voorsitter wees.

“Waarom pres. Ramaphosa nie bestaande staatsinstellings gebruik wat die mandaat het kragtens die wet om dié soort ding te ondersoek nie, verstaan ek nie,” het Van Wyk gesê.

“Met die aanstelling van dié komitee sê dit vir my hy het nie vertroue in staatsinstellings se forensiese ondersoekvermoë en die nasionale vervolgingsgesag nie.

Met die aanstelling van dié komitee sê dit vir my hy het nie vertroue in staatsinstellings se forensiese ondersoekvermoë en die nasionale vervolgingsgesag nie.

“Vir my lyk dit asof die regering net goed ’n bietjie rondskommel sodat dit lyk asof iets gedoen word.

“Die ander werklikheid is dat die staatsinstellings wat dié take behoort uit te voer, onderbefonds is.

“Myns insiens moes die ANC se eie integriteitskommissie al vroeër strenger opgetree het toe die eerste tekens van korrupsie daar was.”

Van Wyk het ook nie baie vertroue in die lede van die komitee nie, maar Mboweni se insluiting gee darem ’n bietjie geloofwaardigheid daaraan.

“Ongelukkig is Mboweni so gemarginaliseer in sy eie party dat hy waarskynlik in dié geval net ’n simboliese aanstelling is.”

Prof. Amanda Gouws
Die korrupsie in die ANC is so diep en so wyd dat een klein komitee wat moet kyk na hoe die verkrygingsprosesse werk, nie gaan help nie.

Prof. Amanda Gouws, ’n politieke ontleder verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, sê vier uit die vyf ministers wat Ramaphosa gekies het, is Ramaphosa-ondersteuners en mense wat hy kan vertrou.

“Ek dink nie hy het ’n keuse gehad oor Dlamini-Zuma nie, juis omdat sy die minister van samewerkende regering is en tydens ’n nasionale ramptoestand die besluite moet neem.”

Gouws sê die kommissie is egter net daar om ’n beeld voor te hou.

“Ramaphosa wil wys hy doen iets, maar ek twyfel of die komitee doeltreffend sal wees. Die korrupsie in die ANC is so diep en so wyd dat een klein komitee wat moet kyk na hoe die verkrygingsprosesse werk, nie gaan help nie.”

Gouws sê as Ramaphosa die probleem wil hokslaan, moet hy die mag van provinsiale regerings wegneem en verkrygingsprosesse in die department van finansies sentraliseer.

Sy sê hy kon ook mense soos adv. Shamila Batohi, die direkteur van openbare vervolgings, by die komitee ingesluit het as hy daarvan ’n sukses wou maak.

Dr. Ralph Mathekga

Dr. Ralph Mathekga, ook ’n politieke ontleder, sê die komitee gaan slegs die korrupsie probeer toesmeer.

“Hoe kan ’n regering wat by korrupsie en bedrog betrek word, homself vir hierdie misdade ondersoek? Ek kan reeds voorspel hoe dit gaan uitspeel: Hulle gaan bevindings maak en die DA gaan die bevindings in die hof uitdaag. Die hof gaan beslis dat daar ’n onafhanklike korona-ondersoekkomitee gestig moet word en dan gaan die proses van vooraf begin,” sê Mathekga.

Meer oor:  Jo-Ansie Van Wyk  |  Ronald Lamola  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Tenderbedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.