Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma se ‘diep geheime’ van ANC spookasem – kenners

Hy hou “diep geheime” van die ANC vir homself, want as dit geopenbaar word, sal dit die party in gevaar stel.

So het oudpres. Jacob Zuma Maandag gesê by die hooggeregshof in Pietermaritzburg, waar hy vir sy korrupsiesaak opgedaag het.

Oudpres. Jacob Zuma dans Maandagmiddag buite die Pietermaritzburg-hooggeregshof vir die ANC-ondersteuners. Foto: Deaan Vivier
Die saak is nie regverdig nie.
JACOB ZUMA

Dit was in reaksie op sy ondersteuners wat Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, en Mdumiseni Ntuli, provinsiale sekretaris van die ANC, uitgejou het.

Kort nadat die saak teen hom en ’n Franse wapenvervaardiger op 16 aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery uitgestel is, het Zuma gesê verskille in die ANC moenie in die openbaar gelug word nie.

“Ons kan nie onsself in die verleentheid stel voor ons vyande en mense wat nie deel van ons is en hulle gelukkig maak nie.”

Regter Piet Koen het die saak uitgestel tot 26 Mei nadat Zuma se regspan aansoek gedoen het om ’n spesiale pleit by die hof in te dien. Op dié datum sal Zuma ook na verwagting skuld ontken.

ANC-ondersteuners buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Deaan Vivier
’n Lid van die Umkhonto we Sizwe-militêreveterane-vereniging Maandag buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Deaan Vivier

Verskeie ondersteuners van die faksie vir radikale ekonomiese transformasie (RET), onder andere Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, die geskorste adv. Bongani Bongo, oudminister van staatsveiligheid, Supra Mahumapelo, oudpremier van Noordwes, en Carl Niehaus, woordvoerder van die militêreveteranevereniging Umkontho we Sizwe (MKMVA), het hom by die hof bygestaan.

Zuma het in sy toespraak buite die hof aan sy ondersteuners gesê hy gaan nie veel oor sy saak sê nie, “want hy gaan baie in die hof praat”.

Hy het ook ’n beroep gedoen op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om hom regverdig in die saak te behandel.

“Die saak is nie regverdig nie. Daar is mense in beheer daarvan, hoewel hulle saamsweer met wetstoepassingsagentskappe en op my vloek.”

Hy het gesê hy is gereed vir sy saak “en dat dit polities gedrewe is”.

jacob zuma
Oudpres. Jacob Zuma Maandag in die Pietermaritzburg-hooggeregshof vir sy korrupsiesaak. Foto: Sandile Ndlovu

Die politieke ontleder Theo Venter het Maandag gesê Zuma se uitlating oor “diep geheime” is blote politieke retoriek.

“Hy dreig nou al jare met hierdie geheime. Dis nou al holrug gery. Hy dreig nou al lank met hierdie geheime, maar as hy daaroor uitgevra word, kan hy skielik nie onthou nie.”

Dr. Bheki Ndevu, politieke ontleder van die Universiteit Stellenbosch, het ook gesê hy glo nie dat Zuma enige geheime teen individue in die ANC het nie.

Theo Neethling, politieke ontleder, het gesê die teenwoordigheid van politici soos Magashule en Mahumapelo verbaas hom nie. “Dit is ouens wat in die moeilikheid is. Hulle is op soek na steun en voel moontlik dat moralisering hulle sal kan help om hul saak te bevorder.”

Hy dreig nou al lank met hierdie geheime, maar as hy daaroor uitgevra word, kan hy skielik nie onthou nie.
Theo Venter

Zikalala en Ntuli se teenwoordigheid by die saak het die wenkbroue in verskeie kampe laat lig.

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa, meen Zikalala en Ntuli se teenwoordigheid beteken nie noodwendig dat hulle die RET-faksie bo dié van pres. Cyril Ramaphosa steun nie.

“As hulle nie daar was om die ANC in ’n amptelike hoedanigheid te verteenwoordig nie, sou dit andersins ’n eksklusiewe RET-byeenkoms gewees het. Dit is ook ’n manier om die voelers uit te steek en beheer oor hul ondersteuningsbasis te behou,” meen Kotzé.

Die staat en Zuma se nuwe prokureur, adv. Thabani Masuku SC, wat die saak by Eric Mabuza oorgeneem het, het Maandag in die hof aangedui dat hulle gereed is om met die saak voort te gaan.

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, praat Maandag buite die hof. Foto: Deaan Vivier

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, was in die hofbanke gereed om – byna 22 jaar nadat sy in 1999 vir die eerste keer in die parlement die fluitjie oor die wapenskandaal geblaas het – as die eerste staatsgetuie in die korrupsieverhoor te getuig.

Die saak is egter tot 26 Mei uitgestel nadat Zuma se regspan die staat Maandagoggend ingelig het dat hulle ’n spesiale pleit ingevolge art. 106 (1h) van die Strafproseswet wil bring – vermoedelik om te versoek dat adv. Billy Downer, die staatsaanklaer, hom aan die saak onttrek.

Dit is onduidelik wat Zuma se regspan as die redes vir die aansoek wil aanvoer.

Koen het gelas dat Zuma se regspan teen Woensdag ’n beëdigde verklaring by die hof moet indien sodat die staat ’n beantwoordende verklaring kan formuleer.

Albei partye het aangedui dat hulle gereed sou wees dat die spesiale pleit, sowel as die gewone pleit van Zuma op Woensdag 26 Mei aangehoor sal word.

Masuku het ook aangedui dat Zuma van plan is om skuld te ontken.

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria, het gesê gegewe dat die saak nou al so lank sloer, belemmer die uitstel vir ’n verdere week nie die saak nie.

Die regskenner Ulrich Roux meen die ontrekkingsaansoek is ’n laaste poging van Zuma om die saak uit te rek, hoewel dit wil voorkom dat die opsies vir verdere vertragings min raak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.