Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kgwadi kap Theo Venter oor Zuma-kommentaar

Onsensitief, onvanpas en kan nie goedgekeur word nie.

Dit is prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), se reaksie op Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die NWU, se beweerde “rassistiese kommentaar” op RSG vandeesweek oor oudpres. Jacob Zuma.

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit. Foto: Argief

Kgwadi sê die NWU keur sulke kommentaar af.

Venter hou vol sy kommentaar was nie rassisties nie en word nie in konteks gesien nie.

Dit kom nadat die ANC se militêre veterane geëis het dat Kgwadi vir Venter ondersoek omdat hy in ’n radio-onderhoud glo “rassisties” was deur Zuma met ’n “rassistiese monster” soos H.F. Verwoerd en ander leiers uit die apartheidsera te vergelyk.

Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto weSizwe-Militêre Veterane-vereniging (MKMVA), was in ’n debat met Venter op die RSG-program Praat Saam waarin Venter gesê het Zuma is ’n swakker president as premiers en presidente uit die apartheidsera soos D.F. Malan, Hans Strydom, Verwoerd, John Vorster, PW Botha en FW de Klerk.

Die MKMVA het in ’n verklaring gesê hy is ontevrede oor die vergelyking omdat dié apartheidsleiers “verantwoordelik was vir die vernietiging van miljoene swart mense se lewe en die dood en chaos van die meeste swart Suid-Afrikaners”.

Kgwadi sê in ’n verklaring hy neem kennis van die beweerde uitlatings en dink dis onsensitief teenoor Suid-Afrikaners in die geheel en in die besonder diegene wat weens apartheid gely het.

“Apartheid was en bly ’n misdaad teen die mensdom. Terwyl vryheid van spraak en akademiese vryheid by die universiteit gekoester word, is die NWU ook bedag op die verantwoordelikheid waarmee akademici en die bestuur dit moet doen.

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool. Foto: Argief

“So ’n vergelyking kan nie beskou word as vanpas nie en kan nie deur die NWU aanvaar of goedgekeur word nie,” lui Kgwadi se verklaring.

Venter sê hy stem saam dat apartheid verkeerd was.

“Ek het nooit apartheid voorgestaan nie en staan dit steeds nie voor nie. Ek het oudpres. Zuma se bestuurstyl en die manier waarop hy die ekonomie bestuur het, met dié van apartheidsleiers vergelyk. Ek het nie gesê Zuma het dieselfde morele standpunte gehad in terme van onderdrukking as dié van apartheidsleiers nie.”

Kgwadi het nie gesê of hy vir Venter formeel gaan ondersoek nie.

Meer oor:  Theo Venter  |  Kommentaar  |  Jacob Zuma  |  Rsg  |  Nwu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.