Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kla Dudu Myeni strafregtelik aan, sê Zondo

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), moet strafregtelik aangekla word omdat sy nie Dinsdagoggend by die Zondo-kommissie opgedaag het om te getuig nie.

Sy het ’n dagvaarding van die kommissie geïgnoreer dat sy moet getuig.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, in Februarie 2020. Foto: Gallo Images

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het ’n bevel gemaak dat die kommissie se regspan ’n strafregtelike klag teen haar by die polisie moet aanhangig maak.

Zondo sê dit is onaanvaarbaar dat Myeni nie aan ’n dagvaarding gehoor gee en by die sitting is nie. Daar is geen rede dat sy nie daar moes wees nie. Die kommissie moet ’n strafregtelike klag teen haar by die polisie indien.

Boonop moet Myeni teen 14:00 beskikbaar wees om wel te getuig, maak nie saak op watter manier sy beskikbaar is nie en al moet dit aanlyn wees, soos moontlik deur Zoom.

Adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier van die kommissie, voer aan Myeni het ’n misdaad gepleeg deur nie gehoor te gee aan ’n dagvaarding om voor die Zondo-kommissie te getuig nie.

Hofmeyr sê Myeni se regsverteenwoordiger het haar gebel en in die hande gekry. Sy is op pad na ’n familiebyeenkoms in Port Shepstone en dit is onduidelik wanneer vandag sy beskikbaar sal wees.

kate hofmeyr
Adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Gallo Images

Adv. Nqabayethu Buthelezi, Myeni se regsverteenwoordiger, het gesê haar afwesigheid is nie kwaadwillig nie. Myeni voer aan sy het Vrydag gevra dat die dagvaarding teen haar uitgestel word en sy het nie ’n antwoord van die kommissie hieroor gekry nie. Sy het dus aanvaar haar getuienis is uitgestel.

“Daar was ’n deurmekaarspul met die dagvaarding, want dit is na haar vorige regsverteenwoordiger gestuur. Sy het eers daarvan bewus geword toe die kommissie haar direk gekontak het met die kennisgewing dat sy gedagvaar is om vandag te getuig.”

Zondo het egter benadruk enige verskoning wat Myeni wil aanvoer omdat sy nie opgedaag het nie, moet onder eed gedoen word.

Selfs al is ’n mens siek, moet jy aan jouself vra, “wat as my aansoek vir ’n uitstel nie slaag nie?” volgens Zondo.

Indien sy op pad is na ’n familiebyeenkoms, wys dit nie sy is iemand wat regtig wou vra vir ’n uitstel nie. Indien die uitstel nie aanvaar is nie, moet sy mos by die kommissie wees, sê Zondo.

Hofmeyr sê die algemene manier hoe Myeni tot nou toe gereageer het om verantwoording te doen, moet ook in ag geneem word. Myeni moes al vantevore vrae oor die SAL beantwoord. Sy het ook nie by ’n portefeuljekomitee van die parlement opgedaag wat haar oor dieselfde saak wou uitvra nie.

Sy wys ’n patroon van iemand wat nie wil verantwoordelikheid aanvaar nie, sê Hofmeyr.

Hofmeyr sê Myeni moes op 11 April 2018 voor die portefeuljekomitee vir openbare ondernemings verskyn het, maar sy het nie opgedaag nie. Dit was nadat dié komitee haar gedagvaar het om te verskyn.

Die destydse voorsitter van die portefeuljekomitee het aan Baleka Mbete, die vorige speaker, geskryf dat sy raad moet gee of ’n strafregtelike klag daaroor ingedien moet word en deur wie. Mbete het gevra dat die portefeuljekomitee ’n verslag hieroor moes indien. Uiteindelik is geen klag teen Myeni ingedien nie.

Hofmeyr sê sy het nie voorheen die inligting aan die kommissie verskaf nie omdat dit nie nodig was nie.

Vandag, nadat Myeni nie opgedaag het nie en ander reëlings getref het, moet sy dit egter uitlig.

Dit is tyd dat die wet toegepas word, sê Hofmeyr.

Meer oor:  Staatskaping  |  Politiek  |  Dudu Myeni  |  Sal  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.