Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kla EFF-LP’s aan oor Pravin, eis ANC

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, moet as ANC-LP teen enige fisieke intimidasie in die parlement beskerm word sodat hy sy pligte as openbare verteenwoordig kan uitvoer, sê die regerende party.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het om dié rede Vrydag namens die ANC geëis dat die parlement se leierskap beslissend moet optree teen die groep EFF-LP’s wat hulle daaraan skuldig gemaak het.

Pravin GordhanFoto: Witness Media

Hy het verwys na die EFF-LP’s wat die begin van Gordhan se begrotingsrede Donderdag in chaos laat verval het toe hulle gedreig het om hom fisiek aan te rand.

Dit was uit protes nadat die openbare beskermer se onlangse verslag bevind het dat hy destyds in sy kapasiteit as kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens toestemming gegee het vir ’n onwettige ondersoekeenheid. Gordhan gaan die verslag deur ’n hof laat hersien.

Ander LP’s en parlementêre veiligheidsbeamptes moes Donderdag tussenbeide tree en die groep EFF-LP’s uit die parlement verwyder.

Verskeie nieregeringsorganisasies het Vrydag ook vir Gordhan in die bresse getree deur die EFF-LP’s se gedrag ten sterkste te veroordeel. Hulle het ook die parlement versoek om die voorval nie ongestraf te laat nie.

Intussen het Pemmy Majodina, ANC-hoofsweep, Vrydag namens die ANC-koukus in die parlement die swaarste moontlike straf teen die groep vir hul “afstootlike” gedrag geëis.

Die ANC-koukus het ook die aanbeveling verwelkom dat die parlement die EFF-LP’s se gedrag amptelik sal ondersoek.

Majodina sê die EFF-LP’s se gedrag is nie net “afstootlik” nie, maar ook ’n belediging vir Suid-Afrikaners wat LP’s die enorme taak gegee het om landswette te maak en die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou.

“Ons loof minister Pravin Gordhan wat selfbeheersing in die lig van openlike uitlokking uitgeoefen het.”

Sy sê verder dat die ANC-koukus sal aanhou om die swaar gewonne demokrasie teen diegene te verdedig wat daarop uit is om dit te ondermyn.

“Geen hoeveelheid intimidasie en ontwrigting van diegene sonder rasionele oplossings sal ons afskrik nie,” sê Majodina in ’n verklaring gesê.

Francis Antonie, direkteur van die Helen Suzman-stigting, sê die EFF-LP’s se gedrag kom op erge intimidasie neer en het nie ’n plek in ons parlement of samelewing nie. “Ons doen ’n beroep op die speaker om die nodige stappe te doen en die verregaande gedrag behoorlik te straf.”

Peggy Pillay, van Johannesburg Against Injustice (JAI), ’n groep struggleveterane, sê die aanvalle op Gordhan kom weens sy volgehoue strewe om korrupsie in staatsentiteite uit te roei en dat hy uitgesonder word omdat hy ’n bedreiging is vir die patronaatskapstelsel wat talle politici en hul vriende die afgelope dekade gevoed het.

JAI eis verder dat die strafregtelike klagte wat teen die EFF ingedien is, bespoedig word.

Ncane Ntuli, voorsitter van die Vereniging van Politieke Aangehoudenes, wie se lede destyds saam met Gordhan politieke gevangenes was, veroordeel ook die maande lange teistering, diskreditering, intimidasie en rassisme teen Gordhan en sy familie in ’n verklaring.

Ntuli eis namens die organisasie dat Gordhan uitgelos word en doen ’n beroep op die EFF om op te hou om “swart-op-swart-geweld” aan te hits.

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Anc  |  Begrotingsrede  |  Politek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.