Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Kla Zuma-hulle aan oor SVA-verraad’

Oudpres. Jacob Zuma en alle ander hooggeplaastes wat na bewering betrokke was in die grootskaalse plundering van én onwettige spioenasie-aktiwiteite deur die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) moet strafregtelik weens dié “verraderlike” dade aangekla word.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Melinda Stuurman

Die Right2Know-veldtog (R2K) het dié versoek Dinsdag skriftelik aan pres. Cyril Ramaphosa gerig ná verdoemende getuienis en onthullings verlede week deur oudminister Sydney Mufamadi en ander voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Thami Nkosi, ’n R2K-organiseerder, sê die nieregeringsorganisasie het aan Ramaphosa geskryf nadat Mufamadi in sy getuienis “bevestig het dat die staat op die R2K gespioeneer het en ons deur SVA-agente geïnfiltreer is”.

Die R2K eis dat Ramaphosa die name van diegene wat dié en ander burgerlike organisasies geïnfiltreer het, bekend maak.

Die R2K eis ook in die brief dat Ramaphosa onder meer moet verseker dat daar opgetree word teen “Arthur Fraser, voormalige SVA-direkteur-generaal, sowel as teen Zuma en voormalige SVA-ministers Siyabonga Cwele, David Mahlobo en adv. Bongani Bongo en Thulani Dlomo, hoof van die eenheid vir spesiale operasies”.

Die organisasie vra dat hulle vir hul “verraderlike” dade van regsverydeling aangekla word.

Oudpres. Jacob Zuma

Dit nadat Mufamadi en ander getuies verlede week skokgolwe deur die land gestuur het toe hulle voor die kommissie onthul het hoe die spioenasiediens in die Zuma-era glo nieregeringsorganisasies, joernaliste en selfs vir Eugene de Kock, oud-Vlakplaas-bevelvoerder, by geheime en “onwettige” spesiale SVA-operasies betrek het.

Daar is ook getuig oor ’n parallelle eenheid wat die SVA binnegedring het, miljoene rande kontant wat na bewering na Zuma gekanaliseer is, R109 miljoen wat uit die SVA verdwyn het en van R9 miljard se SVA-bates waarvan nie rekenskap gegee kan word nie.

Fraser ontken dít ten sterkste. Hy het Sondag ’n klag van meineed teen Mufamadi en die ander getuies oor die “valshede” by die polisie ingedien.

Ek is egter bevrees dat dit ’n bitter moeilike taak sal wees om dit weer op ’n vlak van internasionale geloofwaardigheid te kry.

Intussen het News24 Dinsdag berig dat Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, na aanleiding van dié getuienis Maandag deur Ramaphosa en die res van die ANC se topses-leiers na ’n vergadering ontbied en opdrag gegee is om “die gemors in intelligensie op te los”.

John Steenhuisen, DA-leier, het Dinsdag gesê dat sy party ’n uitgebreide lys van vrae aan die Zondo-kommissie gestuur het om aan Ramaphosa te stel as hy voor die kommissie verskyn.

Ramaphosa moet verduidelik waarom die ANC steeds voortgaan met “sy eksplisiete projek van staatskaping” deur sy “formele beleid” van kaderontplooiing.

Steenhuisen meen die ANC se beleid van kaderontplooiing is die “kernoorsaak van staatskaping waarvan die verskriklike gevolge verlede week onthul is toe Suid-Afrikaners uitgevind het dat meer as R9 miljard van belastingsbetalersgeld van die SVA misbruik is vir misdadige ANC-aktiwiteite, insluitend ANC-projekte om heel waarskynlik die Wes-Kaap te destabiliseer”.

Henning van Aswegen, ’n voormalige dosent by die Nasionale Intelligensie-akademie, het Dinsdag gesê dat die land se intelligensiedienste in ’n ernstige krisis gedompel is. Dit is omdat die SVA “oor ’n rooi streep getrap het waaroor geen intelligensiediens ooit moet trap nie. Dit is om by politiek in te meng.”

Volgens hom kan die SVA slegs deur ’n “ongelooflike hersieningsproses” reggeruk word.

“Ek is egter bevrees dat dit ’n bitter moeilike taak sal wees om dit weer op ’n vlak van internasionale geloofwaardigheid te kry.”

Prof. Bheki Mngomezulu, ’n politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, meen die openlike wyse hoe die Zondo-kommissie die SVA-getuienis verlede week hanteer het, is “uiters teleurstellend”.

“Geen land het nog sy intelligensiediens en -geheime só laat ontbloot nie. Daar is weens die sensitiewe aard van dié sektor baie meer gepaste maniere om kwessies oor staatsveiligheid te hanteer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.