Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Klag teen Myeni ingedien, al getuig sy voor Zondo

Selfs al het Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Dinsdagmiddag uiteindelik opgedaag om voor die Zondo-kommissie te getuig, bly ’n bevel staan dat ’n strafregtelike klag by die polisie teen haar ingedien word omdat sy nie vroeër die dag opgedaag het om te getuig nie.

Sy het ’n dagvaarding van die kommissie geïgnoreer dat sy Dinsdagoggend met die aanvang van die kommissie se sitting moet getuig.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL. Foto: Argief

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het ’n bevel gemaak dat die kommissie se regspan ’n strafregtelike klag teen haar by die polisie moet aanhangig maak.

Zondo het gesê dit is onaanvaarbaar dat Myeni nie aan ’n dagvaarding gehoor gee en by die sitting is nie. Daar is geen verskoning vir waarom sy nie daar was nie.

Zondo het beveel dat sy teen 14:00 beskikbaar moet wees om wel te getuig, maak nie saak op watter manier sy beskikbaar is nie, al moet dit aanlyn wees.

Myeni het uiteindelik aanlyn begin getuig en om verskoning gevra dat sy nie die oggend opgedaag het nie. Dit was volgens haar weens ’n misverstand.

Myeni wou hierna in Zoeloe getuig. Sy het in Zoeloe aan Zondo gesê sy wil hê haar bure en mense wat haar ken in KwaZulu-Natal moet haar verduidelikings aan die kommissie verstaan.

Zondo het hierop gesê sy sal in Engels moet voortgaan. Hoewel die kommissie tolke beskikbaar stel aan getuies, is dit te kort vooraf en daar is nie ’n tolk beskikbaar nie.

Hierna het Myeni voortgegaan om in Engels vrae te beantwoord oor haar betrokkenheid by ’n vergadering wat met oudpres. Jacob Zuma by sy huis in Durban gehou is.

Dit is tyd dat die wet toegepas word.

Zola Tsotsi, voormalige voorsitter van die Eskom-direksie, het in sy getuienis aangevoer hy is gevra om die vergadering by Zuma se huis by te woon.

Op die vergadering het Myeni gesê ’n onafhanklike party moet ’n ondersoek by Eskom doen. Sy het verder voorgestel dat die Eskom-bestuurslede tydens die ondersoek geskors moet word om te keer dat hulle daarby inmeng, het Tsotsi aangevoer.

Myeni sê dit is onwaar. Tsotsi het háár genader om te help sodat hy met Zuma kon vergader. Sy het getuig die Zondo-kommissie “is baie lief vir Zuma”, en probeer hom by elke saak betrek.

Vroeër die dag het adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier van die kommissie, aangevoer Myeni het ’n misdaad gepleeg deur nie aan ’n dagvaarding om voor die Zondo-kommissie te getuig, gehoor te gee nie.

Hofmeyr het gesê nadat Myeni eers nie beskikbaar was nie, het haar regsverteenwoordiger, adv. Nqabayethu Buthelezi, haar gebel en in die hande gekry. Sy het toe gesê dat sy op pad is na ’n familiebyeenkoms in Port Shepstone, maar sy sal terugdraai.

Buthelezi het op sy beurt aangevoer Myeni se afwesigheid is nie kwaadwillig nie. Myeni voer aan sy het Vrydag gevra dat die dagvaarding teen haar uitgestel word en sy het nie ’n antwoord van die kommissie daarop gekry nie. Sy het dus aanvaar haar getuienis is uitgestel.

Zondo het egter benadruk enige verskoning wat Myeni wil aanvoer vir hoekom sy nie opgedaag het nie, moet onder eed gedoen word.

Selfs al is ’n mens siek, moet jy aan jouself vra, “wat as my aansoek vir ’n uitstel nie slaag nie?” het Zondo gesê.

Indien sy op pad was na ’n familiebyeenkoms, wys dit nie sy is iemand wat regtig wou vra vir ’n uitstel nie. Indien die uitstel nie aanvaar is nie, moet sy mos by die kommissie wees, volgens Zondo.

Hofmeyr het aangevoer die algemene manier waarop Myeni tot nou toe reageer het om verantwoording te doen, moet ook in ag geneem word. Sy moes al vantevore vrae van ’n portefeuljekomitee van die parlement oor die SAL beantwoord, maar sy het nie opgedaag nie.

“Dit is tyd dat die wet toegepas word,” het Hofmeyr gesê.

Meer oor:  Sal  |  Dudu Myeni  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.