Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Klein besighede vry van regstelaksie . . .

Klein maatskappye met minder as 50 werknemers sal voortaan van alle regstellendeaksie-vereistes in die Wet op Billike Indiensneming vrygestel word.

Maar vir groter maatskappye word die beginsel van selfopgelegde teikens vir regstelaksie vervang met teikens wat deur die regering voorgeskryf word en dus op rassekwotas neerkom.

Verskeie drukgroepe, waaronder Solidariteit en Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa), het die afgelope week gedreig dat dit ongrondwetlik sal wees en dat hulle die rassekwotas in die howe sal beveg. Hulle sal dit egter eers kan doen wanneer nuwe wysigings aan die Wet op Billike Indiensneming, wat pas deur die kabinet aanvaar is, wet word. Die wysigings moet nog deur Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, by die parlement ingedien word en ’n parlementêre proses deurloop.

Staat erken daar’s nie genoeg inspekteurs om dit af te dwing.

Die ligpunt in die konsepwet is dat maatskappye wat 50 werknemers of minder het, uitgesluit word van “aangewese werkgewers” wat elke vyf jaar ’n regstellendeaksieplan by Nxesi se departement moet indien, elke jaar verslag moet doen oor hul vordering daarmee en onderwerp word aan streng en ingewikkelde inspeksies deur arbeidsinspekteurs oor die rasse-profiel van hul werknemers.

Kleiner maatskappye moet egter wel die voorskrifte teen diskriminasie in die werkplek nakom wat in ’n ander deel van die wet uiteengesit word, anders kom hulle nie in aanmerking vir staatskontrakte nie.

“Dit (die gedeeltelike vrystelling vir kleiner ondernemings) was ’n voorstel van die departement self. Hulle het reguit gesê hulle het nie die vermoë om regstellendeaksiemaatreëls in die kleiner maatskappye af te dwing nie en dat dié maatskappye in elk geval meestal familiesake is waarin dinge nooit veel gaan verander nie,” het ’n rolspeler in die Nedlac-onderhandelingsproses gesê wat nie geïdentifiseer wil word nie.

“Dit was verstommend. In al my jare van onderhandeling met die regering is dit die eerste keer dat so ’n bekentenis gemaak word,” het hy gesê.

“Verteenwoordigers van ander departemente en instellings soos die Kommissie vir Billike Indiensneming het beswaar gemaak. Die amptenare van die arbeidsdepartement het egter vasgeskop en dit is uiteindelik so aanvaar.

“Ons is dankbaar, want enigiets wat kleinsake gaan help, is belangrike vordering,” het dié bron gesê.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die Nasionale Werkgewersvereniging (Neasa), sê dis ’n groot verligting vir kleiner werkgewers, maar swart ekonomiese bemagtigingsvereistes maak dit steeds vir hulle moeilik.

“Sowat 80% van die 10 000 maatskappye wat Neasa as lede het, het minder as 50 werknemers. Om nie langer aan regstellendeaksie-vereistes te voldoen nie, is beslis vir hulle ’n verligting, maar die paar groter lede word nou erger gestraf met sektorale teikens,” sê Papenfus.

Dr. Annelie Gildenhuys, verteenwoordiger van Busa op die Kommissie vir Billike Indiensneming, sê die afgelope paar jaar is geen vordering gemaak daarmee om die rasseprofiel van topbestuurders en senior bestuurders te verander nie.

Op topbestuursvlak in die private sektor is 66,5% van posbekleërs wit en 15,3% swart, terwyl 79% van die ekonomies aktiewe bevolking swart is. Op senior bestuursvlak is 54,4% van die posbekleërs wit en 23,2% swart.

In die staatsdiens is die situasie omgekeer. Meer as twee derdes van die topbestuurders en senior bestuurskader is swart.

“Hoe jy ook al redeneer, jy kan dit nie regverdig nie. En daar is enorme frustrasie en ongeduld daaroor, veral onder jonger swart beroepslui. Dit het op hierdie wysigings uitgeloop,” sê Gildenhuys.

Op laer posvlakke is aansienlike vordering gemaak. Op professionele posvlakke is 40,2% van die posbekleërs swart en 37,4% wit en op tegniese en akademies gekwalifiseerde posvlakke is 63,3% van posbekleërs swart en 18,5% wit.

“ ’n Mens verwag dat dit sal deursypel na die hoër posvlakke, maar om een of ander rede gebeur dit nie,” sê Gildenhuys.

In die Nedlac-onderhandelinge het die regering aangevoer dat die “teikens” wat die minister voorskryf, dieselfde sal wees as die teikens wat volgens die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging vasgestel is, maar dit sou onmiddellik beteken dat dit nie teikens is nie, maar kwotas.

Uiteindelik is ooreengekom dat die Kommissie vir Billike Indiensneming met die onderskeie sektore sal beraadslaag oor teikens wat die minister voorskryf.

Volgens Anton van der Bijl, regshoof van Solidariteit, sal die mate waarin Nxesi by die aanbevelings van die kommissie bly, deurslaggewend wees in toekomstige hofsake om te bepaal of die teikens in werklikheid kwotas is.

“In ons voorleggings oor die wysiging het ons rasionale, werkbare voorstelle gemaak oor hoe die klem op rasseteikens verander kan word na ’n groter klem op werklike gelykheid. Die Grondwet praat van gelykheid – nie van numeriese rasseteikens nie. Dit lyk asof dit glad nie in ag geneem is nie,” sê hy.

Meer oor:  Anton Van Der Bijl  |  Gerhard Papenfus  |  Thulas Nxesi  |  Busa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.