Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kleiner partye kry bewyse vir kieshof

Die stof het nog nie gaan lê oor onreëlmatighede in die 2019-verkiesing nie.

’n Komitee van kleiner, ontevrede partye hou skoon hul lyf speurder om bewyse vir die kieshof te versamel, het genl. Bantu Holomisa, UDM-leier, Vrydag gesê. Holomisa sê daar was gevalle waar stemstrokies na munisipale kantore geneem is vir die aantekening van die stemtotale sonder dat al daardie strokies deur partyagente geteken is.

Die partye maak nou lyste van die name van die voorsittende beamptes wat dit toegelaat het.

Holomisa sê politieke partye word gestraf vir die foute van OVK-amptenare, soos om nie alle stembriewe te stempel nie. Sulke stembriewe is as bedorwe stemme getel, waarvan daar in die afgelope verkiesing 235 472 (nasionaal) en 204 847 (provinsiaal) was.

“Indien bedorwe stembriewe ’n party was, was dit die sesde grootste party in dié verkiesing,” het dr. Ivan Meyer, ondervoorsitter van die DA se federale uitvoerende bestuur, Vrydag gesê.

‘Ons glo dis onbevoegdheid.’

Die Verkiesingskommissie (OVK) het nie op navrae gereageer nie. Die OVK het Donderdag in ’n mediaverklaring gesê ’n oudit het aangetoon daar was ’n “geringe risiko” van dubbelstemmery. Minstens 20 mense is kort ná die verkiesing in hegtenis geneem omdat hulle glo twee keer gestem het.

Die OVK het Risenga Maluleke, die statistikus-generaal, verlede week gevra om onafhanklik ondersoek in te stel na ’n verteenwoordigende steekproef van 1 020 stemdistrikte oor die land heen om vas te stel hoe wydverspreid dubbelstemmery was. Die finale verslag het bevestig dat die risiko van dubbelstemmery wel bestaan het. Maluleke het ook die gebruik bekyk van die art. 24 A-vorm, wat kiesers kon invul as hulle buite hul stemdistrik stem. Die kommissie was egter tevrede dat die voorkoms van sulke stemme in ooreenstemming was met vorige verkiesings. In net 13 van die 1 020 gevalle was daar ’n beduidende patroon-afwyking.

Intussen beoog die DA in die Vrystaat om ’n klag van bedrog aanhangig te maak indien hy nie ’n goeie verduideliking kry oor die “vermiste” DA-stemme in ’n stemlokaal by die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein nie.

Die stemme is intussen opgespoor.

Die voorsittende beampte het glo nie die korrekte uitslagkaart aan die provinsiale verkiesingskommissie verskaf nie en die DA se 1 234 stemme is as nul aangedui.

Werner Horn, DA-veldtogbestuurder in die Vrystaat, sê Itumeleng Liba van die OVK in die Vrystaat het ’n verslag aan die nasionale OVK gestuur.

Wouter Wessels, VF Plus-lid in die Vrystaatse wetgewer, sê by die stemtent in N.P. van Wyk Louw-straat in Langenhovenpark is sowat 400 nasionale stemme vir die VF Plus uitgebring, maar die party se getal provinsiale stemme is aangedui as nul.

“Ons glo dis onbevoegdheid. Ons glo nie daar is ’n sinistere plan om sekere partye te benadeel nie.” Hy sê die OVK het erken dat hy ’n probleem het met voorsittende beamptes. Die kommissie het sy gebruik laat vaar om skoolhoofde en onderwysers te gebruik omdat die vakbonde kapsie gemaak het.

Intussen het Citizen Surveys bevind ’n bietjie minder as 17,7 miljoen kiesers het gestem, terwyl 18,2 miljoen stemgeregtigdes weggebly het.

“Van dié wegblyers was presies die helfte (9,1 miljoen) nie geregistreer nie. Dié wegbly-vlakke bring die legitimiteit van ons demokrasie in gedrang,” het Reza Omar, strategiese navorsingsdirekteur van Citizen Surveys, gesê.

Meer oor:  Bantu Holomisa  |  Verkiesing 2019  |  Udm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.