Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kleiner partye sê kiesers moenie na DA luister

Sekere kleiner opposisiepartye het die DA se standpunt dat Suid-Afrikaners nie in die Mei-verkiesing vir kleiner partye moet stem nie, as onder meer “desperaat” en ’n “paniek- veldtog” beskryf.

Mmusi Maimane, DA-leier, het vandeesweek in sy maandelikse nuusbrief, Bokamoso, opgemerk dat sterk teenstand dringend teen die ANC gebou moet word en dat ’n stem vir ’n kleiner party “neerkom op die herrangskikking van die dekstoele op die Titanic”.

Mmusi Maimane, DA-leier. Foto: Malherbe Nienaber

“Kleiner partye sal nie ons ondergang onder die ANC stopsit nie en ons fokus verskuif van die grootste bedreiging vir ons demokrasie – een-party-oorheersing.”

Hy sê die groot groep politieke partye – 48 wat op nasionale vlak aan die verkiesing gaan deelneem – sou onder normale omstandighede verwelkom word as ’n teken van ’n lewendige demokrasie met baie opsies vir kiesers om uitdrukking aan hul individuele voorkeure te gee.

“Dit is egter nie ’n gewone verkiesing nie – dit is ’n stryd om ons oorlewing. So die 8ste Mei moet daaroor gaan om ’n geloofwaardige alternatiewe regering te bou, nie om ’n sprinkeling van opposisiepartye op die rand van ons politiek te skep nie.

“As elke kieser daarop aandring om met elke enkele standpunt van ’n party saam te stem, sal ons met ’n magdom klein partye opeindig wat nie in staat is om die ANC se oorheersing uit te daag nie.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, stem nie saam nie. Die DA is volgens hom besig met ’n “paniek-veldtog” omdat hy vrees hy gaan stemme aan ander partye afstaan.

“Hulle ondermyn die demokrasie. ’n Demokrasie word juis daaraan gemeet of kiesers ’n keuse het. Elke stem tel teen die ANC as jy vir ’n opposisieparty stem, ongeag of jy ’n LP verkies kry of nie,” sê hy.

Grant Haskin, nasionale verkiesingsbestuurder van die ACDP, voel die DA se argument is ongeldig omdat dié party “meer bereik het met sy drie LP’s as die DA met sy 89 LP’s”.

“As die meeste kiesers hulself Christene noem, moet hulle vir ’n party stem wat hul oortuigings weerspieël eerder as ’n party wat strydig is daarmee. Suid-Afrika is ’n veelpartydemokrasie, nie ’n tweepartystaat nie. Geen twee partye kan ten volle verteenwoordig waarin almal glo nie. Dit is desperaatheid van hul kant,” sê Haskin.

Dr. Makhosi Khoza, stigterslid van African Democratic Change (Adec), vra op haar beurt in ’n twiet dat daar nie gehoor gegee moet word aan diegene wat mense aanmoedig om nie vir ’n kleiner party te stem nie.

“Om die waarheid te sê, die mooies is nog nie gesien nie. Die ANC, die DA en die EFF (is) katastrofies vir die RSA. Toegegee, daar is sommige kleiner partye wat bloot parlementêre setels vir indiensneming wil hê. Adec (is) moeg vir retoriek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.